ToekomsVenster: God is oral, ook by jou

(Foto: Bhushan Sadani/Unsplash.)

Ps. 139:7-12 – Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.

Ai, mense is darem dom astrant by tye, ja, ons maar ook. Ons dink die Here weet nie wat ons doen, dink en beplan nie. Ons dink Hy is onbekend met ons gisters en ons mores. Ons kan maar handel soos ons dit goedvind, Hy is nie bewus van ons doen en late nie. Amper soos daardie bekende lied wat sê, “From a distance, God is watching us”.

Dit is bevrydend om eerlik en sonder pretensie voor God te lewe.

Die Psalmdigter getuig daarvan dat daar nog nie eers ʼn woorde op ons lippe is of die Here weet reeds wat dit gaan wees.

Hy deurgrond en deurskou ons en ken elke gedagte.

Wie is die mens wat van God wil wegkruip anders as die mens wat besig is met die verkeerde, ander waarom sou jy wou wegkruip of wegkom?

God skyn sy ondersoekende lig op en in jou lewe maar nie om jou gedurig oor die vingers te tik en te veroordeel nie maar veel eerder om perspektief en rigting te gee.

“Waar Hy lei daar sal ek meegaan” het ons mos so hartlik saam met die bekende Halleluja gesing.

Miskien het ons ʼn verkeerde verstaan van God. Ons dink Hy stel net in ons Sondag lewe belang. Die gewone en alledaagse dinge is nietig en onbelangrik. God is in elk geval ver te besig om Hom aan beuselagtighede te steur.

Sou Hy nou belangstel in hoe ek my geld spandeer, watter beroepskeuse ek uitoefen, na watter skool my kinders gaan, aan watter gemeente ek behoort en aan watter sosiale kring ek behoort?

Die tegelykertyd ontstellend en bevrydende gedagtes dat Hy inderdaad nie net belangstel nie maar intens betrokke is en wil wees, ontstel of bemoedig.

Die gedagte van God  se deurlopende betrokkenheid by my lewe ontstel as ek soos Adam en Evan wil wegkruip omdat ek naak is.

Die wete egter dat Hy betrokke is bemoedig omdat ek Hom dan as my lewensanker en hulp kan verwelkom.

Jou naaktheid gebruik Hy nie as ʼn geleentheid om jou by te kom nie maar ʼn geleentheid om sy Hand van versoening na jou uit te steek.

Waar is jy vandag en hoe betrokke beleef jy God by jou lewe? Vlug en wegkruip is nie ʼn opsie nie. Kom staan in sy wonderbare, bevrydende en genesende krag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U wat alles van my weet, my nog steeds die moeite werd ag, my liefhet…die merke aan U Liggaam getuig dit…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.