ToekomsVenster: God sal jou help

vyeboom

(Foto: Reint Dykema)

Habakuk 3:17-19 – Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Lees die versie weer, lees dit nog ʼn keer.

Hoe groot is die oes, hoeveel diere is daar, watter bydrae lewer die olyfoes? Nee, jy het dit reg. Daar is letterlik niks. Dit is ook hoe die Babiloniërs dinge agtergelaat het. Wat betekenisvol was is weggevoer. Niks het oorgebly nie. Die wat oorgebly het het niks gehad om mee te werk nie. Dit is ellendig, hartseer en desperaat.

Tog kry Habakuk die genade om sy vertroue ten spyte van wat hy sien en waarneem in en by die Here te hou. In goeie tye en in slegte tye is God daar. Hy is Immanuel, God met ons. Hy het in goeie tye gesorg, Hy gaan ons nie nou alleen los nie.

Die woorde “al sou” en “nogtans” spreek my aan. Ek wil ʼn “al sou” en “nogtans” mens wees. Ek is seker jy ook.

Die Here gee krag na kruis. Hy sal ons nooit alleen los nie. Niemand wat sy vertroue in die Here stel word teleurgestel nie sê die Bybel in Psalm 34.

Ek wonder of jy met Habakuk kon identifiseer hierdie week. Hy verstaan nie waarom God nie iets doen nie. Wanneer die Here sy plan met die ongeregtigheid bekend maak is Habakuk eers ontsteld, dit kan gewoon nie. Tog besluit Hy om die God wat beter weet te vertrou.

Derhalwe sluit Hy af met ʼn lofverheffing wat deur die eeue resoneer en miljoene gelowiges bemoedig het.

Vir hulle wat God liefhet werk alles ten goede, uiteindelik. Wag daarop. Verwag dit. Moenie opgee op die geloof nie.God sal jou help.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.