ToekomsVenster: Hartverskeurende medelye


hand-uitreik

Foto: Foundry/Pixabay.com

Lukas 10:33-35 Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’

Ek wonder dikwels hoe Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in ons tyd sou vertel. Ek dink die beste sou wees as ons dit self probeer.

Kom ons begin met die eenvoudig vraag wat die godsdienstige man aan Jesus gestel het. Hy wou weet wie sy naaste is (10:29). Het jy so ’n definisie? Is dit jou buurman, of jou familie, of mense wat dieselfde sosiale klas of ras is? Wie is jou naaste? Agter sy vraag was natuurlik ’n wêreld op sy eie. Daar was Jode en Samaritane en heidene. Jode meng met Jode. Hulle is ons naaste. Daar is duidelike godsdienstige en rassegrense.

Jesus vertel ’n gelykenis om die vraag van die godsdienstige man te beantwoord. Wie sou die priester en Leviet wees wat van rigting verander toe hulle die beseerde man sien (10:31,32)? Wat doen jy wanneer iemand wat nie in jou groep en definisie van ’n naaste inpas nie in groot nood verkeer? Die gelykenis is hewige kritiek op mense wat godsdienstig is, maar nie wil betrokke raak nie. Jesus se gelykenis wil dit duidelik maak dat mense wat godsdienstige pligte bo barmhartigheid plaas, nie die hart van God verstaan nie. Dis mos die ou gedagte wat ons gedurig in die Ou Testament hoor: ek verkies barmhartigheid en gehoorsaamheid bo offers.

En dan is daar die Samaritaan (10:33-35). Dink aan die persoon wat jy min of meer laaste op jou lys van naastes sou hê. Dit was die plek wat die Samaritane in die Joodse denke beklee het. Hulle is openlik vervloek. Die Samaritaan was van daardie mense wat Jode nie as hulle naaste sou sien nie. Hy help.

Een van die mees beskrywende woorde vir medelye word hier gebruik om sy ervaring te beskryf toe hy die beseerde man sien (10:33). Dis daardie gevoel wat jou hart in beroering bring, iets wat in jou opwel wat jy nie kan keer nie – soos wanneer jy in trane uitbars. Sy ingewande het in beweging gekom. Sy hart het gebreek. Sy hulp is nie eenmalig nie. Hy maak seker dat die persoon volledig gehelp word en dat daar nasorg is.

Dan boul Jesus die godsdienstige man geheel en al uit. Hy antwoord sy vraag met ’n vraag. Wie van hierdie drie mense was ’n naaste? Jou vraag, godsdienstige mens, was ongeldig. Die vraag is nie of iemand anders my naaste is nie. Dis ’n vraag wat grense wil stel. Die vraag is of jy ’n naaste is. Daar is geen grense aan liefde nie. Die Samaritaan was ’n naaste. Die ander nie.

Uiteindelik vra Jesus een vraag: stel jy grense aan jou medelye of nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria van Dieweeck ·

God, ons vra dat U ons sal help om barmhartig te kan wees terwyl U ons veilig hou. In Jesus naam AMen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.