ToekomsVenster: Here red my

(Foto: Oliver Raatz/Unsplash.)

Matt. 14:28-31 – Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Daar kom meer dikwels geleenthede waar ʼn mens soos ʼn Petrus van ouds wil uitroep, “Here red my”.

Die onrustige ervaring wat ons tans met Covid-19 het is so ʼn tyd. Alles is onseker en ʼn mens is in ʼn sekere sin jou lewe nie seker nie. Jy weet nie waar die virus skuil nie en beleef die wreedheid van ʼn vyand wat in die donker skuil.

Die virus is lafhartig en slaan toe wanneer ʼn mens dit nie verwag nie. Hy openbaar homself nie vir die vyand wat hy is sodat jy betyds kan weerstand bied nie. Jy weet nie wanneer jy waaraan blootgestel en deur wie en wat nie.

Dit is ʼn gevoel van onrustigheid wat meermale by ʼn mens teenwoordig is. Soos die dissipels op die see van Galilea te midde van ʼn fel golwe aanslag. Hulle roei verbete om uit die stormweer te ontsnap maar dit neem net in intensiteit toe. Hulle voel onveilig en baie bedreig. Die wind is letterlik van voor sodat hulle ten spyte van hul hardste roeipogings nie vordering maak nie. Dan verskyn Jesus skielik op die toneel.

Hulle is so verblind deur die gebeure en hul gees is so ontstig dat hulle nie sy teenwoordigheid kan onderskei nie. Vir hulle lyk dit soos ʼn spook. Die bedreiging word so pas groter. Nie alleen moet hulle met die vernietigende storm deel nie maar ook ʼn bonatuurlike verskyning van ʼn onbekende verskynsel. Dit is eers as hulle die stem van die Heiland hoor dat hulle tot bedaring kom.

Petrus is egter nog nie seker nie en waag dit om uit die boot te klim. Hy beleef die wonder dat hy op die water loop, net soos die Here self totdat sy oë weer op die dreigende watermassa is. Sy uitroep “Here, red my” word nie met grynslag, verwyt of teregwysing begroet nie.

Ek dink daar is ʼn glimlag in Jesus se stem as Hy vra waarom Petrus twyfel. Met Jesus in die boot gaan die wind lê.

Jesus was al die tyd daar. Soos toe Hy per geleentheid lê en slaap het was hy nie afwesig nie.

Sy teenwoordigheid word egter in die geloof onderskei. Hy sal jou nie teleurstel nie. Al is die storm hoe bedreigend, jy is veilig in sy hand.

Ps. 91:5-6 – Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.