ToekomsVenster: Herodes, die bedreigde koning


gloeilamp-omgeval-krag-mag

Foto: Pixabay/Pexels.com

Matteus 2:1
Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Ná Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom.

Daar is niks so aaklig soos iemand wat verbete aan mag klou nie. Herodes is so ʼn bejammerenswaardige leiersfiguur. Dis nie navolgenswaardige leierskap wat hom in posisie hou nie, maar geslepe onderduimsheid, partyskappe en afpersery, baantjies vir boeties en alles wat daarmee saamgaan.

Ons lewe in ʼn magsbehepte samelewing. Dit lyk baie aantreklik, maar is ʼn vorm van slawerny. Hoe langer ʼn mens lewe met daardie ingesteldheid, hoe meer word jy ingesuig.

Mag is ʼn onversadigbare metgesel. Dit kry nie genoeg van inpalm nie. Mag kwes die gewete in so ʼn mate dat dit moed opgee. Dit het gewoond geraak om geïgnoreer te word. Mag is ʼn slawedrywer.

Gewoonlik is die maghebber in skuld by iemand anders soos mense by hom of haar. Dis ʼn gedreig van albei kante. Vrees word die dryfveer in die magspel.

Ek kan my dit nie indink dat mense wat magsbehep is rustig slaap nie, hoewel die psalmdigter in Psalm 73 tog sê dat hulle oënskynlik nie probleme het nie.

Moenie aan mag en beheer toegee nie. Op ʼn afstand lyk dit gesog, dit kom in die gedaante van sogenaamde leierskap, invloed en diensbaarheid, maar dis alles ʼn leuen.

Suid-Afrika het sy kwota magsmisbruik.

In Zimbabwe sal ons maar moet sien of die een despoot net uit die pad gekom het vir die volgende.

Jesus se leierskap het radikaal anders gelyk.

Op ʼn dag stry die dissipels oor belangrikheid. Jesus verwys na die kinders.

Matteus 18:4
Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel.

Iewers vra twee dissipels Jesus ʼn vraag wat hul harte effe verraai:

Markus 10:35-37
Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.” “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra. Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

Dis alles verdoeselde mag. Wees op die uitkyk daarvoor. Dit kom in alle samelewingsverbande voor en dis aaklig.

In ʼn ander teks is dit die twee broers se moeder wat die vraag stel. Jesus antwoord soos volg:

Matteus 20:25-28
Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.