ToekomsVenster: Het jy My waarlik lief?

Foto: Jamie Street/Unsplash

As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. – Johannes 14:15

Ek het my wederhelfte baie lief. Ek kan my die lewe sonder haar nie indink nie. Sy is benewens God die grootste anker van my lewe.

Ons het ons manier van saampraat oor die liefde. Skertsend sal ek vra of sy my nog liefhet waarop sy onmiddellik “nee” antwoord. Natuurlik weet ek dat wat sy wil sê is, ja, met my hele hart.

Ander kere sê ek dat ek haar liefhet waarop sy antwoord “wanneer gaan jy dit begin wys” . Weereens, dis skertsend, moenie nou nie die telefoon nommer van die plaaslike huweliksberader aanstuur nie. Haar antwoord egter is ʼn goeie een – “as jy my liefhet, wys my dan”.

Die vraag is uiteraard hoe wys ʼn mens jou liefde en lojaliteit vir ʼn ander mens. Ek is seker jy is bekend met die sg. liefdestale. Elkeen van ons het so ʼn taal of ʼn kombinasie daarvan. Dis daardie ding wat my hart vinniger laat klop, wat sê dat jy regtig vir my omgee, dat ek vir jou belangrik is, dat jy my belange op die hart dra, dat jy die pad saam met my stap ens. Ja, dit is ʼn bietjie “ekkerig” maar dit bly steeds waar. Elkeen van ons het ʼn behoefte aan liefde en waardeer dit wanneer mense dit aan ons bewys.

My engel se liefdestaal is kommunikasie, om met haar te praat. Dis uitdagend vir iemand wat nie baie praat nie. Dis juis waar liefde inkom. Die bietjie ekstra wat van my gevra word is ʼn klinkklare bewys van my liefde. Sy word nie deur geskenke beïndruk nie. Sy hou nie van verrassings nie. Blomme doen dit ook nie. Praat wel.

So het ek my liefdestaal. Wanneer sy dit “praat” klop my hart sjokolade.

God se liefdestaal is gehoorsaamheid. “As jy my liefhet voer my opdragte uit, doen wat Ek van jou vra, wees bereidwillig en toegewyd aan die taak wat ek jou opgedra het. Gaan werk vandag in my wingerd”.

Dis een ding om iets te sê (of te sing), dis ʼn ander om dit praktiese uit te leef.

Jy sê jy het die Here lief. Wys dit dan!

As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. – Johannes 15:10

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade, liefde en seëninge. Amen!

Maria ·

My Koning vir wie ek liefhet …..U is my hart punt met n ware Agape

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.