ToekomsVenster: Hierdie dag behoort aan die Here

Foto: Juan Giraudo/Unsplash

Jer. 46:10 – Dié dag behoort aan die Here, die Here die Almagtige

Elke dag, genade gawe soos dit is, is onbekend. Wat die inhoud van die dag gaan wees is eweneens onbekend.

Jy mag afsprake hê maar jy weet nie of jy daar gaan uitkom nie. Jy mag vriende ontmoet maar jy weet nie of die afspraak gaan bly staan nie. Jy mag kennis neem van verwikkelinge in die wêreldpolitiek maar weet nie of nog ‘n wêreldoorlog op hande is nie.

Besighede beplan vir ʼn betekenisvolle dag maar ons weet nie wat wêreldmarkte gaan maak nie. Ons beplan maar weet nie of Jesus dalk vandag op die wolke verskyn nie. Ons het net die oomblik en dit is kortstondig en momenteel. Dit beteken uiteraard nie dat ons nie moet beplan en dagboek nie. Orde is deel van volwasse wees. Alles gebeur in tyd en tyd staan nie stil nie. Mense het programme en dit moet respekteer word.

Uiteindelik tas ons soos blindes in die donker tensy God die lig van ons lewens is. Dan kan die lewe maar gebeur. Ja, ons bid vir veiligheid en guns, vir voorspoed en betekenis, maar alles is sy hande. Die duisternis sal nie seëvier nie en die bose sal nie triomfeer nie. Jesus is daarvan die waarborg.

Ons name is geskryf in die boek van die lewe en die Lam. Niks kan ons vervreem van ʼn liefdevolle God nie. Vir hulle wat Hom liefhet werk alles ten goede. Niks is vir die Almagtige onbekend nie. My lewensdae is lankal reeds opgeskryf. Ek is geseënd met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is, in Christus Jesus uitverkies tot die lewe en ʼn vrugbare een daarby.

Hy skryf die woorde op my tong. Hy maak my bekwaam as ek moet rekenskap gee. Met Hom spring ek oor ʼn muur en loop ek ʼn bende storm.  Hy is my anker en my hoop. Die dag en wat dit mag inhou is onbekend. Ek weet nie, maar Hy weet. Ek kan nie, maar Hy kan. Ek rus in Hom.

Carpe diem. Gryp die dag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Dankie my Hemelse Vader dat ek by U kan skuil as die storms woedend om my slaan…..niks kan my van U liefde skei nie…ek is so lief vir U Here

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.