ToekomsVenster: Hoeveel moet ek gee?

liefde-hart-struik-muur

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die vraag hoeveel ek moet gee word gereeld gevra. Baie gelowiges wonder oor hoeveel hulle elke maand aan die kerk moet gee. Is die standaard antwoord van 10 % die korrekte een? Veronderstel iemand kan goed leef al sou hy of sy 90 % weggee en net op die 10 % wat oorbly oorleef? Met bogenoemde in gedagte word die hele “persentasie gee” ’n bietjie van ’n grys area. Soos in van die vorige dagstukke uitgewys is, het die 10 % model van gee sy ontstaan in die Ou Testament gekry. Dis ook belangrik om te verstaan dat die 10 % gawe slegs ’n persentasie was wat die volk van God as offer gebring het. As die tweede en die derde tiende in berekening gebring word asook die vrywillige offers, het die volk van God meer as 23 % van hul besittings as offergawes gebring.

In die Nuwe Testament, waarvan ons as gelowiges deel is, neem “gee” ’n heel ander vorm aan. Met die eerste offergawe in die Nuwe Testament kerk gee baie tot en met 100 %. Paulus noem ook dat die gelowiges van Masedonië meer gegee het as wat hulle kon bekostig. Verder leer Jesus dat dit beter is om te gee as om te ontvang en dan verwys Paulus na geld as saad. Die motivering agter gee in die Nuwe Testament is dus nou nie soseer persentasies nie, maar eerder gehoorsaamheid wat gedryf word deur liefde.

Dit maak die 10 % model van gee egter nie onbybels nie. Baie gelowiges gebruik hierdie model omdat hulle gemaklik voel en ook oortuig is dat hierdie model die beste model van gee aan die kerk is. Ander gebruik dit weer as basis vir gee, maar laat toe dat die Gees hulle ook lei om meer te gee as die 10 % basis. Vir ander het die 10 % gee-model gedien as ’n wegtrekpunt en nou is hulle op reis rakende offergawes.

Iets om oor na te dink

Dit is jammer as iemand wat wel 10 % aan die kerk kan gee, dit nie doen nie. Dit is ook jammer as iemand wat die Here al jare lank dien, nog steeds net 10 % gee. Om te gee is ’n lewenstyl wat deur liefde en gehoorsaamheid gemotiveer word.

Gebed

Here, baie dankie dat ek U ook met my offers kan dien.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tammy ·

Hoekom moet dit aan geld gemeet word? Jy gee soos geglo word n tiende van jou (geld). Hoe meet jy in persentasie jou tyd, hulp aan behoewendes, die siekes en bejaardes wat jy op jou onkoste rondkarwei, die ou tannie by die ouetehuis vir wie jy slaapklere gaan koop het, die medisyne wat jy gereeld aan jou huishulp gee wanneer sy hoes, die tuinwerker wat nooi ooit huis toe gaan sonder n groot bak kos uit jou yskas nie. Elke dag pak jy vir ten minste twee ekstra kinders n kospakkie in en stuur dit saam skool toe. Ag nee asseblief, hierdie vraag gee regtig aanstoot vir ons wat reeds alles in ons vermoe doen om te gee en gee.

Koos ·

Ge-retrench, blank, ouer as 55, twee volwasse kinders terug in die huis want hulle is ook te wit, ma wat met staatspensioen van R2700 per maand ook nog verdere hulp soek, broer om die draai wat elke nou en dan “nie uitkom hierdie maand nie, help asb met water en ligte”. Lekker om grootbek agter ‘n sleutelbord te wees en ander te veroordeel, nogal vanuit die Bybel.

Andre ·

Dis nogal ‘n ding wat my ook kwel. Verwys die 10% regtig na geld? Ons gesin probeer om mense te help. Wees dit met kos pakkies, klere (Oud of nuut), ens. My vrou wil my in ‘n Batman suit vir haar verjaardag na ‘n kinderhuis toe vat om daar partytjie te hou… Ekt eendag vir ‘n tannie op die hoek ‘n ou ietsie gegee en toe sy daai ou woorde “Seun jou” na my kant toe werf se ek maar net:”Ek is klaar geseun tannie, dis hoekom ek kan help”… Vir my is die offergawe van doen wat reg en mooi is, baaaiiiieeee meer werd as ‘n geldjie in die kolekte. Ons sit ‘n geldjie in want die Kerk en gronde moet onderhou word en mense se selarisse moet betaal word, maar ek voel mense maak teveel aanstoot om 10% finansieel vir die Kerk te gee…

Genieve ·

Gee dit soos dit op jou hart is dit moenie n gedwinge saak wees nie.

Denise ·

Stem 100% saam met jou Bees ek gee vir my naaste !!!! En dit is my mense om my wat swaar kry !!!!

Emsa ·

Emsa, Gee wat jy het maar gee dit met n dankbare hart. Daar is mense en kerke wat se as jy nie jou 10de gee nie dan sal jy nie die seen van God ontvang nie. Wel ons is so geseend dat ons ander ook help.
Baie keer as jy n kerk besoek dan is die koevert klaar reg om te gee. Wat as jy nie kan nie. Is dit dan verkeerd as jy ander in nood help in pleks daarvan om geld te gee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.