ToekomsVenster: Is my Hand te kort?

kosmos-en-windpomp-in-oos-vrystaat-deur-jb

Foto: Juanita Badenhorst.

Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie? Waarom het niemand geantwoord toe Ek geroep het nie? Is Ek nie in staat om te verlos nie, het Ek nie die krag om te red nie? Wanneer Ek die see aanspreek, droog hy op. Ek laat riviere opdroog: die visse stink, daar is nie water nie, hulle vrek sonder water. – Jes. 50:2

Dis niks minder as aangrypend om hierdie woorde van die HERE aan sy vervreemde volk te hoor sê nie. Die verbondsvolk het ʼn ryke geskiedenis gehad van op weg wees saam met God. Die verhaal van die redding uit Egipte en die voorsiening in die woestyn tot en met die inbesitname van die beloofde land is van geslag tot geslag oorvertel en gevier. Desnieteenstaande was hulle hardkoppig en tot die verkeerde geneig. Oor eeue het die Here by monde van die profete sy volk teruggeroep na die gebaande wee. Jesus praat met Jerusalem en huil as Hy die jammer geskiedenis van die volk Israel in herinnering roep. Julle wat die profete doodmaak, hoe dikwels wou ek julle versamel soos ʼn hen haar kuikens, maar julle wou nie.

Dis die hartseer geskiedenis van mense tot vandag. Mense met ʼn belydenis en ervaring dat Jesus die Here is is vindingryk besig met die verkeerde terwyl hul hul optrede regverdig. Wat is dit waarna die mens dan soek wat God nie by magte is om te gee nie is die vraag wat in die gedeelte gestel word. Is God dan nie wie Hy sê Hy is nie? Is Hy dan nie in staat om meer te doen as wat ʼn mens kan bid of dink nie? Is Hy nie in alles soewerein en in beheer nie? Is Hy dan nie die morester wat hoop vergestalt te midde van aanvegting nie?

Die Here se woorde by monde van sy profeet sny diep. “Ek het geroep maar niemand het geantwoord nie”. Uiteindelik het die volk alles verloor en die geleentheid om gered te word verbeur.

Hoe dikwels roep die Here nie reeds na jou nie? Waarom vermy jy die stem van die Here en soek jy jou hulp en heil in dit wat nie kan red voorsien en sorg nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.