ToekomsVenster: Jesus gaan hier verby

voetspore.jpg

(Argieffoto)

Mark 10:48-49 – Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”

Die vers laat ʼn mens stom van verbasing. Hier is ʼn blinde man met wie die skare na alle waarskynlikheid bekend is.

Hulle is bewus van sy sukkelbestaan en pleidooie. Hulle volg Jesus seer sekerlik omdat hulle iets betekenisvol in Hom raaksien. Sy lewe, woorde, voorbeeld en optrede gryp die verbeelding aan. Dit is waarskynlik na aanleiding van die een of ander wonderwerk wat Jesus verrig het dat die skare rondom Hom saamdrom.

As die blinde man egter begin roep maak hulle hom aanvanklik stil. “Jy raas”, sê hulle vir hom. “Jy maak ʼn oorlas van jouself”.

Die ongeskrewe teks sou dalk wees, “Jesus het vir belangrike mense gekom. Jesus se aandag is nou by ons gevestig en jy neem die kollig van ons af weg. Ons nood is groter as joune en ons kom al ʼn lang pad saam met Hom, jy pla nou net”.

Die teks gee nie ʼn rede waarom hulle hom probeer stil maak nie, ek wonder wat in jou gedagtes opkom. Wanneer Jesus die man egter raaksien en vra dat hy na Hom toe moet kom verander hul deuntjie. Nou troos en bemoedig hulle hom. “Moenie moed verloor nie, Hy, Jesus het jou raakgesien”. Hulle help hom waarskynlik tot by Jesus. Nou verander dieselfde mense in fasiliteerders van genade.

Mense is darem interessante goed. Die een oomblik hardvogtig en ongenaakbaar, die volgende die toonbeeld van belangstelling en ondersteuning.

Gelukkig laat nog Jesus, nog die man hom van stryk bring. As dit daarop sou aankom is ek seker die blinde sou strompelend na Jesus toe aangekruip kom, in die rigting van sy stem, van sy tasbare liefde en omgee.

Daar is mense vir wie ander die Koninkryk toesluit. Hul geroep na ʼn genadige en liefdevolle God word gesmoor deur die vooroordele en agterdog van mense. Hulle het by voorbaat besluit dat sommige mense nie kandidate van en vir God se genade kan wees nie. Hulle is verblind deur hul eie idees van wat en wie vir genade kwalifiseer.

“Nie belangrik genoeg nie, nie voorbeeldig genoeg nie, nie begaafd genoeg nie, ens”.

Mag dit nooit van ons gesê word, dat toe ons mense na Jesus toe moes begelei, ons die benoude en desperate roepe gesmoor en geïgnoreer het nie.

Mag ons uit die staanspoor mekaar “voorstoot” by wyse van spreke, die blindes, stommes en dowe, die soekende en worstelende menigtes begelei in die teenwoordigheid van ʼn liefdevolle, omgee God.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.