ToekomsVenster: Jesus gee homself

dorings-boom-deur-juanita-badenhorst-2019-05-02

Foto: Juanita Badenhorst.

Elke Paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. Daar was ‘n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. Daar het toe juis ‘n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het. Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barábbas vir hulle moet loslaat. Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?” “Kruisig hom!” skreeu hulle. “Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle. Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!” Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barábbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word. – Markus 15:6-15

Sjoe, dit maak vir ontstellende leesstof. Barábbas, ʼn bewese krimineel, ʼn opstandeling en moordenaar versus Jesus, die Seun van die lewende God, die Messias Koning, die beeld van die Vader wat nie gesien kan word nie, die Barmhartige wat siekes versorg, hongeriges gevoed en gemarginaliseerde opgehef het, word teenoor mekaar gestel.

Die brullende, arrogante aansprake van Barábbas en die stille broosheid van die Koning van die Jode. Lig en duisternis, waarheid en leuen, lewe en dood. Maak ʼn keuse. “Wie wil julle hê moet ek dan vrylaat,” vra Pilatus.

“Nog een keer probeer,” dink die ruggraatlose Pilatus by homself, “miskien sal die mense tog tot hulle sinne kom as ek die keuse nog een maal herhaal. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode loslaat nadat die mense reeds gevra het vir Barábbas se vrylating?”

“Nee,” peupel die massa onder aanstigting van die geestelikes, “laat Barábbas vry”.

“En Jesus” vra Pilatus, kan hulle die gewraakte oproep om Jesus te laat kruisig deurvoer?

Dan kom dit met ruwe oortuiging. “Kruisig Hom”.

Nog ʼn kans. “Wat het Hy gedoen. Ek vind geen kwaad in Hom nie” Pilatus sien deur die afguns van die priesterhoofde en ander geestelikes. “Wat moet ek met hierdie Jesus doen”?

“Kruisig Hom,” skreeu hulle. Die dreunsang word oorverdowend, die hemel begin stadig wegkyk, die onafwendbare moet nou gebeur.

Die mense kry hulle sin, staan daar. Hoe tragies. Die wil van mense of die wil van God. Hoe dikwels kies die wêreld steeds so. Dalk ek en jy ook. “Wat moet ons met hierdie Jesus maak?” Kruis toe met Hom.

Dis die aard van ons rebelse opstandigheid teenoor God en die Messias Koning. Sonde roep “kruisig Hom”. Ons het egter met die sonde afgereken. Ons het gesterf en het opgestaan in ʼn nuwe lewe. Die vrug van die kruisgebeure.

Romeine 6:6 – Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elsie Riekert ·

Die woord “krimineel” is nie ‘n selfstandige naamwoord nie. “Misdadiger” wel. Dankie vir die oordenking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.