ToekomsVenster: Jesus het my genees

salie-kruie-genees-gesond

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. – Jes. 53:5

Dis nie aangenaam om siek te wees nie. Ons praat uiteraard nie van verkoue of ʼn seer lyf nie. Ons praat van regtig siek wees. In die volksmond sê ons iemand is “dodelik” siek. Siek tot die dood.

Daar is sekere siektetoestande wat ons ontnugter en ontspoor. Dit is veral die “k”-woord wat jou totaal ontsenu en ontwrig laat.

Kanker klink amper soos ʼn doodsvonnis.

Soms is die afloop van hierdie siekte degraderend van aard. ʼn Mens word hulpeloos en aangewese op ander. Jy worstel om jou selfrespek te behou en ervaar hoe jou individualiteit en onafhanklikheid aangetas word. Behandeling laat jou nog sieker voel en jy wonder of dit alles die moeite werd is.

Dan weer het ek met mense te doen gehad wat hul waardigheid en selfrespek behou het. Jy het hulle nie hoor kla nie en hulle het altyd getuig dat die genade van die Here genoeg was. Hulle het my altyd verseker dat dit goed gaan met hulle en dat hulle dankbaar is vir die Here se sorg.

Dis uiteraard baie moeilik om jou te verbeel hoe dit moet wees om kanker te hê. Dit is tog veel beter om elke dag voluit te lewe en die toekoms in die Here se hande te laat.

Sy genade is genoeg en Hy het belowe dat Hy nie sal toelaat dat ons buite ons vermoë om ʼn situasie te hanteer versoek sal word nie (1 Kor. 10:13).

Die dood is ʼn werklikheid en hoewel ons nie aan die dood wil dink nie, is dit ʼn onafwendbare werklikheid. Doodgaan is nie die ergste ding wat kan gebeur nie. Doodgaan sonder God is.

Die woordeboek van gelowiges het sekere woorde uitgevee. “Noodlot” en “toeval” is twee daarvan, “dood” die derde.

Die angel van die dood is die sonde, maar Christus Jesus het betaal sodat die dood nie langer soos ʼn swaard oor ons koppe hang nie (1 Kor. 15:55).

My ma het lewerkanker gehad. Mettertyd het sy hulpeloos geword en was sy aangewese op persoonlike versorging.

Ek sal haar woorde nooit vergeet nie. Janna (soos sy my genoem het), ek gaan tot op die einde leef.

Gebed:

Jesus, U is my Geneesheer. Amen

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Santa ·

So belangrik dat ons aan ons geestelike weerbaarheid werk wanneer dit goedgaan- sodat wanneer ons siek word die regte ingesteldheid reeds daar is.

René Erwee ·

Baie dankie – ons het hierdie pad al soveel keer geloop en dis seer seer seer. Daar was die verlies van menswaardigheid, die aanskou van die pyn, maar die getuig van God se genade deur elkeen wat ons verloor het, ook ons het die grootste genade ervaar. Dan die skok van die dood al verwag jy dit, maar bo alles die troos dat ons aan Jesus Christus behoort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.