ToekomsVenster: Jesus het opgestaan

sonsopkoms-blomme-berge-rivier

Foto: Jordan Steranka/Unsplash.com

Toe die Sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem. Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ‘n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik. “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang. – Markus 16:1-8

Die vroue het die beste intensies denkbaar as hulle die môre vroeg na die graf van Jesus gaan. Soos die gebruik is, wil hulle eer aan die gestorwe Jesus bewys en sy liggaam dienooreenkomstig behandel. Hul grootste uitdaging is die klip voor die ingang. Dis groot en swaar en verhoed dat iemand die liggaam gedurende die nag verwyder en so ’n gerug die wêreld ingestuur word dat Jesus opgestaan het.

God verwyder die obstruksie en open hulle oë vir ’n geestelike waarheid. Geen klip kan ons skei van God se liefdevolle sorg nie. Die opgestane Here word nie deur mensgemaakte strukture ingeperk nie. Hy het klippe, rotse en berge gemaak. Niks kan die lewende Here keer nie.

Ai, hoe arrogant en verwaand kan mense nie wees nie. Stel jouself voor, om God met ’n rots te probeer inperk. Hy wat gesê het laat daar lig, berge, rotse, mere en die see wees en dit was so.

Dit is opmerklik dat hier sprake is van ’n jongman, uiteraard ’n engel wat in die graf opening staan. Sou dit beteken dat daar ook ouer en ander kategorieë van hemelwesens bestaan? Ek is nie daarvan seker nie en dink ook nie dat die Woord van die Here ons meer inligting gee nie. Dié “jong engel” word egter die nuusbreker.

Hy moet vertel dat hoop nie getaan het met die sterwe van Jesus nie.

God se Gees het Hom opgewek om nooit weer te sterf nie.

Jonk beteken energiek, innoverend, beweeglik, vars en oorspronklik. Ons jongmense is ’n gawe van Bo. Ek kan my verwonder aan jongmense. Hulle besit ’n vorm van vryheid en onskuld wat spesiaal is.

Die duiwel het ’n agenda om ons jongmense te verongeluk. Hulle moet draers van die Goeie Nuus wees. Joël se profesie maak melding van jongmense.

Joël 2:28 – Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien.

Prediker maan jongmense om vreugde te vind in die Here.

Prediker 11:9 – Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie.

Die Psalmdigter wy ’n ellelange Psalm aan jonges om hul van die waarde van God se word te oortuig. In Psalm 119:9 word gevra hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord, antwoord dié teks.

1 Johannes 2:13-14  – Ek skrywe vir julle, vaders, omdat julle Jesus ken wat van die begin af daar was. Ek skrywe vir julle, jongmense, omdat julle die Bose oorwin het. Ek het vir julle geskrywe, kinders, omdat julle die Vader ken. Ek het vir julle geskrywe, vaders, omdat julle Jesus ken wat van die begin af daar was. Ek het vir julle geskrywe, jongmense, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het

Ons moet nie ons jongmense se entoesiasme smoor nie. Hulle doen dinge soms halsoorkop maar is juis daarom so spesiaal. Ek wonder stellig of die jong engel nie gekeer moes word om nie die klip weg te rol terwyl dit nog nie tyd was nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

En net daar het Jesus die tempel in drie dae herbou soos belowe. Jesus vervang die lam wat al die sondes van die volk moes aanneem en daarom word Hy die Lam genoem wat vir ons sondes gesterf het. Die aardse tempel is nie meer nodig nie en ons kan direk ons sondes aan Hom bely en so vergewe word. Ook opvallend dat die Sabbat nogsteeds geldig was en dat Jesus se opstanding nie God se wette (10 gebooie) verander het nie en dat Sondag nie die Sabat is nie. Dankie Jesus vir ons redding!!!!

OWO ·

Daar bestaan ‘n soort van hierargie onder engele omdat hulle uitgesonder word bv,serafs Jes 6:2,gerubs Eks 25:18-22 en aartsengele soos Migal en Gabriel Dan 8:16,9:21.Daarom kry ons ook verwysings na groepe engele(trone,heerskappye,owerhede,magte Kol 1:16,1953 vertaling)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.