ToekomsVenster: Jesus maak die storm stil

storm

Foto: Josh Sorenson/Pexels.com

Skielik het daar ‘n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” – Lees Markus 4:35-41

Hierdie gedeelte het gelowiges seker vanaf die begin oneindiglik bemoedig.

’n Stormsee is te ene male ʼn realiteit in almal se lewens. Iemand het eendag gesê jy is of in ʼn storm, kom pas daaruit of is daarheen op pad. Ons leef steeds op aarde en die lewe gebeur.

Die gedagte dat Christene nie geraak en beïnvloed word deur die dinge wat elke dag rondom hulle gebeur nie, is wensdenkery. Dit is ongemaklik maar waar en hoe gouer ons die realiteit verreken, hoe beter sal dit met ons gaan. Menige Christen wat geglo het dat materiële, liggaamlike, emosionele en geestelike voorspoed onwillekeurig en noodwendig vir hom of haar bedoel is net omdat hy of sy glo, sal ontnugter word. Die predikers van hierdie skeefgetrekte waarheid is of oneerlik oor hul eie worsteling of leef in ʼn droomwêreld.

Hoe hanteer jy jou tyd in die stormagtige see?

Ek kan my die verontwaardiging van die dissipels voorstel. Die boot dreig om te vergaan en Jesus lê en slaap. Ek wonder stellig of Hy nie skrefies oë gekyk het om te sien hoedat die dissipels die situasie sou hanteer nie. Hoe dit ook al sy hul oproep dat Hy moet help val nie op dowe ore nie. Jesus roep die wind en weer tot hul verbasing tot orde maar verwyt hulle vir hul kleingeloof.

Hoe móés hulle reageer het? Hoe sou jy reageer indien jy in die boot op stormsee was met Jesus oënskynlik vas aan die slaap?

Die see van Galilea is bekend daarvoor dat onweer sommer vinnig kan ontwikkel en dat stormsee regtig onstuimig kan wees. Die gevaar was nie onbeduidend nie. Die teks sê die golwe was hoog en die skuit het al vol water begin word.

Dis ʼn laat moment om Jesus wakker te maak. Miskien moes hulle sommer aan die begin al met Hom gepraat het. Wag jy ook totdat die storm akuut word voordat jy met God praat? Dalk eers so ‘n bietjie self probeer?

Groot storm en groot ontsag. Interessant die twee begrippe wat met “groot” verbind word. As die ontsag die storm en ongemak vooraf gegaan het sou die dissipels die storm dalk beter hanteer het.

Weet jy en wis jy wie by jou in die boot is? Dis die Skepper van alles, ook van die wind en stormsee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erwee ·

Die 1933/53 vertaling praat van Meester en nie Meneer nie: “En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?”. Miskien is dit omdat Die Meester, Meneer geword het in ons lewens dat ons wereld lyk soos hy lyk!! Miskien moet Die Meester weer ‘n realiteit word sodat die storms kan stil word. Net ‘n gedagte!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.