ToekomsVenster: Jesus roep vir Levi, die tollenaar

tafel-en-beker

Foto: Ryan Riggins/Unsplash.com

Daarna het Jesus in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het. Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?” Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” – Lees Markus 2:15-17

Ai, die skynheiligheid van die geestelikes van Jesus se dag skree ten hemel. Jesus se antwoord is in die kol en stof tot nadenke. Terwyl daar spreekwoordelik ʼn balk in hul eie oë is sien die skrifgeleerdes die splinter in ander se oë raak.

By God is daar nie grade van sonde nie. Sonde is rebellie en die boodskap duidelik, almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Jesus haat geveinsdheid.

Hy voel Hom tuis tussen mense wat kan uitroep, “wees my sondaar genadig” eerder as die selfregverdiging van die wat bid, “ek is so dankbaar ek is nie soos hierdie sondaar nie”.

Lukas 18:  Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.

Hoe kyk ons na ander mense? Oordeel ons mense vanuit ʼn ivoortoring en morele hoë grond?

Levi, later Matteus genoem, een van Jesus se apostels is ʼn tollenaar van beroep. Hy is trouens die hooftollenaar. Mede Israeliete verfoei hom. Hy neem hul swaar verdiende geld en belas dit gewetenloos in belang van die heidense Romeinse owerheid en die keiser, ook homself. Hy is ʼn verraaier wat net aan sy eie sak dink. Hy verdien die minagting van mede Joodse burgers.

Jesus roep hom en hy volg dadelik.

Jesus roep ander en hulle oorweeg dit eers versigtig.

Matteus 8: Iemand anders, een van sy dissipels, sê vir Hom: “Here, laat my toe om eers terug te gaan en my pa te begrawe.” Maar Jesus antwoord hom: “Volg My, en laat die dooies hulle eie dooies begrawe.”

Jesus en sy dissipels is oënskynlik baie tuis in die huis van Matteus. Verskeie ander tollenaars en sondaars kuier saam. Trouens hulle betree ʼn baie intieme ruimte, die van saam eet. In ʼn naby oosterse konteks is dit ʼn gestalte van gasvryheid en aanvaarding.

Vir wie verwelkom jy in jou huis en aan jou tafel? Het jy al ooit n buitestaander en gemarginaliseerde in jou vriendekring toegelaat?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Vir intersant toe Jesus vir se Juda “volg my” in tussen het glo ek Jesus al geweet hy gaan hom verraai. My wonderlik Jesus hom respekteer en hom lief gehad . Ek sou nie…as ek geweet het…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.