ToekomsVenster: Jesus sterwe

sonsondergang-01

Foto: Jordan Wozniak/Unsplash.com

Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.” Een van hulle het toe gehardloop, ‘n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ‘n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.” Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur. Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Daar het ook vroue op ‘n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome. Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar. – Markus 15:33-41

Hoe kom ’n mens by God uit? Baie mense vra die vraag en dis uiteraard baie belangrik. In mense se poging om die afstand tussen hemel en aarde, tussen God en mens te oorbrug word baie dinge gedoen. Jou lewensrigting en oriëntasie word in oënskou geneem en ’n voorneme om voortaan voorbeeldig te lewe word gemaak. Deel daarvan sal die goeie dinge wees wat van nou af gedoen gaan word. Voeg daar by Bybel lees en bid en eredienste bywoon. Wat kan God dan nog vra? Dit moet sekerlik genoeg wees om Hom te oortuig en te beïndruk.

Natuurlik bly so ’n mens onvervuld en sonder vrede, al sy of haar mooi pogings ten spyt.

Mense kom nie by God uit nie, maar Hy by hulle. Trouens, Hy het dit reeds gedoen aan Golgotas heuwel. Daar het Hy met wat mense van God skei beslissend gedeel.

Sonde veroorsaak die groot skeidingsmuur tussen mense en hul God. Sonde is rebellie en opstand teen God se heerskappy, ongeag of ’n mens dit bedoel of nie. In ’n mens self is daar geen manier waarop met sonde gehandel kan word nie. As God nie self ingegryp het om mense vry te maak en die lewe te skenk nie sou hulle vir altyd verlore gewees het.

Die loon van die sonde is die dood maar die genadegawe van God is die ewige lewe deur Christus Jesus ons Here. Dit wat die mens nie by magte was om te doen nie het God in en deur sy Seun gedoen. Die prys is betaal en die pad na God se hart is weer oopgestel. Die gordyn wat van bo na onder skeur as Jesus sy laaste asem uitblaas is daarvan ’n teken.

Probeer jy ook nog om God te beïndruk. Dis futiel, energie mors en dodelik. Dis vermoeiend maar sonder ewige resultate of uitkoms. Die ewige lewe is duur. Die enigste wyse waarop ons dit kan bekom is as God dit verniet weggee. Dis Evangelie. Genade onbeskryflik groot het U aan my bewys.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.