ToekomsVenster: Jesus word in Nasaret verwerp

geel-blomme

Foto: Elektrosmart/Pixabay.com

Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. En toe die Sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? Is hy dan nie ʼn timmerman, ʼn seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?” Die mense wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: “ʼn Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.” Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ‘n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. 6Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense. Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer. – Markus 6:1-6

Dit is dikwels die moeilikste om tussen die mense wat jou goed ken ʼn getuie vir Jesus te wees. Dalk is dit jaloesie, dalk vooroordeel, dalk sommer venynigheid. Die belangrike is dat mense jou getuienis nie moet verwerp omdat hulle jou regte lewe (ware kleure) ken nie. Indien jy sedertdien verander het gaan dit tyd neem vir mense om jou integriteit en opregtheid te aanvaar. Jy kan mense dit nie kwalik neem as hulle jou as ʼn onbetroubare persoon leer ken het en skielik daag jy op ʼn dag op en vertel met groot fanfare dat alles verander het nie.

Vreemd hoedat ʼn mens die getuienis van ʼn vreemdeling eerder sal aanvaar as dié van iemand wat aan jou bekend is.

Jesus het geen sonde gedoen nie. Wat hulle van Hom beleef het, was van die begin af so. Hulle het geen rede gehad om Hom met ongeloof en vooroordeel te begroet nie. Mense wat Hom nie aanvaar nie het dus geen ander verduideliking as verhardheid van die hart en vooroordeel nie.

As mense die Seun van God so brutaal en ongemanierd behandel moet ʼn mens nie verbaas wees as dit met jou ook gebeur nie. Immers, Hy hét ons vooraf gewaarsku dat ons vyandskap in die wêreld sal beleef doodgewoon omdat die wêreld nie van die waarheid hou nie.

Matteus 5:11: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.
12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.