ToekomsVenster: Jou reis deur die woestyn

(Foto: Giorgio Parravicini/Unsplash.)

Nadat Jesus deur Johannes gedoop is in die Jordaan en God sy Seun in geen onseker terme aanbeveel het (dit is my geliefde Seun in wie ek ʼn welbehae het) is die volgende sinnetjie onverwags en amper ontstellend (met verwysing na Markus 1:12vv ). Die Heilige Gees lei Jesus in die woestyn waar Hy vir ʼn volle 40 dae sonder kos en water versoek en beproef word deur die duiwel. Op allerlei slinkse maniere kom die bose deur selfs die Skrif aan te haal ten einde  Jesus sover te bring om sy sending na die aarde te verloën en op te skort.

Soos die tyd aanstap en die hongerpyne knaag en Jesus se vermoë om fisies, geestelik en intellektueel weerstand te bied, hou die bose nie op om die een na die ander leuen op te dis nie. Hy kyk of hy die “tweede Adam” kan laat ontspoor soos vir Adam en Eva destyds in die paradys nie.

1 Kor.15: 45 – So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword.

Nadat Jesus weerstand bied tot die einde blaas die bose die aftog en versorg engele vir Jesus. ʼn Mooi opmerking in die Evangelies is dat die wilde diere Jesus geen kwaad aangedoen het terwyl Hy in die woestyn was nie.

Dit gebeur dikwels so dat, na ʼn geestelik inspirerende ervaring waarin God se nabyheid tasbaar was, lê die versoeking om die draai en wag. Dit vra vir teenwoordigheid van gees en ʼn geankerdheid in God se Woord om staande te bly.

Dit is juis die opmerklike van hierdie gebeure. Die Skrif staan sentraal en Jesus haal dit met gesag en korrek aan. Beveg die duiwel met God se ewige Woord.

Jesus het die ervaring in die woestyn met dapperheid oorleef. Nou weet die bose by wyse van spreke waar hy met Jesus staan.

Hoe is dit met jou gesteld?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.