ToekomsVenster: Jy mag maar

(Foto: Clay Banks/Unsplash.)

Soos al dikwels genoem word ons baie bewus van ons eie verganklikheid en kortstondige bestaan op aarde gedurende hierdie uitdagende tyd waarin ons leef.

Wanneer ʼn mens met die realiteit van jou en ander se sterflikheid en broosheid saamlewe dink ʼn mens anders oor sekere dinge as andersins. Skielik word allerlei irritasies en soortgelyke dingetjies minder belangrik. Waar dit in die verlede aanstoot gegee het verdra jy dit omdat dit gering is in vergelyking met die totale afwesigheid van daardie persoon.

Ons almal het maar ons voor- en afkeure.

Daar is dinge wat ons nie aanstaan nie om die gesegde te gebruik, goed waaroor ons selfs baie ernstig voel. Oop gesprek is uiteraard belangrik indien die goed regtig so belangrik is dat jy dit nie doodgewoon kan ignoreer nie, as dit ʼn betekenisvolle en  negatiewe impak op jou menswees het en skade berokken. Ek kan in elk geval nie dink waarom die ander persoon, veral as julle in ʼn vertrouens- en liefdesrelasie staan, nie daarvan sou wou afsien nie.

Onthou, die rolle kan ook omgekeer wees sodat dit jy is wat die aanpassing moet maak, maar om in die skeihof te beland omdat die tandepastabuisie verkeerd leeg gemaak word, is onsinnig. Dit mag jou irriteer maar dit is nie wesenlik belangrik nie. Koop jou eie buisie as dit daarop aankom maar moenie ʼn belangrike verhouding laat skade lei oor simpel goed nie, veral nie teen die agtergrond van wat bo geskets is, die kortstondigheid van die lewe nie.

Covid-19 is maar ʼn voorbeeld van goed wat ʼn mens kan oorkom. Daar is ʼn legio sake waaroor ons geen beheer het nie. Leef liewer voluit as om ‘n verhouding te beeindig oor iets wat  hoegenaamd nie belangrik is nie.

Ek haal graag hierdie pragtige gedig aan wat iets van ons eie beperktheid skets asook die noodsaak om weer te dink oor wat belangrik en minder belangrik, dalk selfs onsinnig is.

Jy mag maar deur Hester Heese

Jy mag maar jou koffie slurp

of in die piering gooi

Jy mag maar met vuil voete

uit die komposhoop

oor ons wit mat loop

 

Jy mag jou naels byt

vals sing

swak groente huis toe bring

die badkamer omkrap

die nat vloer opdroog met jou waslap

 

Skakel maar die radio aan

om ses in more

en luister hoe hulle brabbel

oor veevrektes

aartappelroes

inseminasie

 

Jy mag maar snags hard snork

oor koue voete brom

as jy net terug kan kom

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.