ToekomsVenster: Kom ons lees nog stories


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Lees Handelinge 2

Ons lees in Handelinge 1 en 2 die verhale van die eerste gemeentes. Ons lees van die kwellings, probleme en uitdagings waarmee hierdie jong gemeentes te doen gekry het. Hierdie verhale vertel ook hoe daar op ʼn unieke manier mense bereik is.

Daar is verskillende verhale oor hoe nuwe gemeentes begin en uitgebou is. Dink aan die verhale van Paulus se sendingreise. Alhoewel, Paulus word in sommige kringe beskryf as die tref-en-trap sendeling. Hy stop vir ’n week of twee op ’n plek, gaan na die markplein, knoop gesprekke aan, verkondig die boodskap en vertrek dan weer van daar na die volgende dorp of stad. Sy briewe getuig van boodskappe wat hy dan langs die pad kry van die gemeentes wat hy so vinnig gestig het. In sy briewe reageer hy dan op hulle versoeke deur weer aan hulle te skryf. ’n Voorbeeld hiervan is 1 Korintiërs waarin hy op ʼn klomp sake reageer.

Daar is ook Johannes wat weer op ’n ander manier getuig van sy gemeente. Johannes is weer lief om te skryf oor wondertekens en verhale. Die manier wat hy getuig oor die instelling van die nagmaal is uniek en vars (Johannes 6).

Al hierdie stories of verhale oor mense help ons, want daar gebeur iets met ons – ons kan onsself in die verhale inlees. Of dit die twyfel van ’n Gideon is, die verloëning van ’n Judas en of dit die ongeloof van ’n Thomas is wat eers die hande en voete van Christus wil raaksien voordat hy verder sal glo! Ons lees en sien onsself in hierdie verhale. Ons besef dit is nie net ons wat Hom nie raaksien nie; die Emmausgangers het Hom ook nie raakgesien nie.

Gebed:

Vader in die stories wat die Bybel ons vertel oor mense en hoe God betrokke is by mense, maak dat ons so dankbaar is. U is ook betrokke by my. Daarvoor wil ons U dank. Amen.

Leefwyse:

Raak stil voor God en dink aan al die Bybelstories wat jy ken. Wat val jou op van hierdie stories en wat leer jy daaruit?

Iets om vandag oor na te dink:

Hoe dink jy is God vandag betrokke by gewone mense se stories? Dink jy God het geskep en is dalk iewers eenkant, of kan jy sien waar hy betrokke is in die wêreld?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.