ToekomsVenster: ‘Laat daar lig wees’

(Foto: Casey Horner/Unsplash.)

Gen. 1:1-2 – In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.

Die woorde “heeltemal onbewoonbaar” val my op. Dit beteken sekerlik dat lewensnoodsaaklike middele, omstandighede en konteks volledig ontbreek het. Dit is inderdaad chaos, donker soos die res van die vers dit stel.

Die waters was eweneens diep wat bydrae tot die gevoel van onrustigheid, wanhoop en vrees. So het God egter die hemel en die aarde geskep, dis hoe die gedeelte begin.

God het die hemel en die aarde geskep maar daar was ʼn groot stuk werk wat nog gedoen moes word om lewe moontlik te maak. Die Gees het oor die waters gesweef wagtend op die opdrag om orde te bring.

Die volgende kragdadige aankondiging van God begin die chaos orden en in leefbare omstandighede omskep. So eenvoudig soos dit, “laat daar lig wees” en dit was so. So verloop trouens die res van die skeppingsverhaal.

Verskeie skeppingsteorieë word aangebied as verduideliking van hoe die skeppingsgebeure verloop het. Die Bybel gee nie besonderhede nie, net die blote, gesaghebbende aankondiging wat telkemale resoneer dat God tevrede was met dit wat tot stand gekom het.

God het geskep en Hy het dit uitnemend gedoen. Die stukkend het eers later gekom nadat die mens, die laaste en grootste van God se skeppingshandelinge, op sy eie manier begin inhoud gee het aan God se opdrag om die aarde tot voordeel van almal te bestuur.

Die gedeelte in die eerste paar verse bring hoop in omstandighede wat skeef en verkeerd loop. Hy is die Een wat gesaghebbend, ordeskeppend, besig is in hierdie wêreld. Hy doen wat mense nie kan doen nie. Hy spreek net ʼn woord en die onrustige waters kom tot rus.

Jou lewe en omstandighede mag vandag aan tye voor God se skepping herinner. Skep moed, die Here is steeds op die troon. Hy sal sy werk in jou voortsit en afhandel.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.