ToekomsVenster: Liefde sluit ons monde toe en ons harte oop


beach-193786_1280.jpg

Foto: AnnaER, Pixabay

Die liefde bly stil oor ander se foute… –1 Korintiërs 13:7a

Wanneer God se liefde in ons gestalte kry, vind ons dieselfde genade wat God aan ons betoon ook in ons eie harte teenoor ander. Wanneer ons na ander mense se foute kyk, is dit nie meer met veroordeling nie, maar met liefde. Om die waarheid te sê, Godgegewe liefde verstil ons monde, terwyl dit ons omgee verlewendig. Na alles, God het ons ’n leeftyd se foute vergewe en Hy praat nie daaroor nie. Wie is ons om die enkele foute van ’n ander persoon uit te blaker?

(Die liefde) … bly steeds vertrou. Dit hou aan met hoop. – 1 Korintiërs 13:7b-c

Wanneer die Heilige Gees die resultaat van Sy teenwoordigheid in ons optrede begin realiseer, blom ons harte oop vir mense in nood. Ons hou nie sommer op wanneer dinge nie uitwerk nie. Ons gee nie op as mense nie dadelik verander nie. Ons beoefen hoop. Hoop is nie ’n sinlose, leë verwagting nie, maar ’n vaste sekerheid. Hoop is lewend.

Dit hou aan glo in God. Daarom sien die liefde altyd die beste in mense raak en vertrou dat God alles reg sal laat uitwerk.

Mense wat skepties is, het dit nie by die Heilige Gees geleer nie! In die oë van die wêreld lyk die liefde miskien liggelowig en naïef, maar dit is nie so nie. Die liefde kies om te bly glo dat by God alles moontlik is!

(Die liefde) … verduur alles… – 1 Korintiërs 13:7d

Wanneer die Heilige Gees liefde in ons lewens begin realiseer, beteken dit nie dat ons in magtelose, hulpelose mense verander wat enigeen toelaat om ons te vertrap nie. Inteendeel, ons word mense wat die kwaad doelgerig in die oë kyk en daarmee handel deur mense nóg ’n kans te gee. Óns optrede breek nooit God se moed met ons nie. Hy gooi nooit handdoek in met ons nie. Hy wil ons in staat stel om ook só teenoor ander op te tree.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.