ToekomsVenster: Liefdestaal, ʼn taal wat lewens verander


liefde

Foto: Argief.

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks. Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. – Lees 1 Korintiërs 13:1-7

Liefdestaal is opbouende taal. Dit is vol geduld met die ander.  Die weerspieël vriendelikheid.  Dit breek nie mense af uit afguns nie. Dit praat nie groot nie.  Dit is met ander woorde nie verwaand nie (1 Kor 13:4).

Duisende hektaar fynbos of weiding wat verbrand het, is begin deur ‘n enkele vuurhoutjie of sigaretstompie wat roekeloos laat val is.  Dit rig enorme skade aan.  Baie lewens het al so in die slag gebly of is onherroepelik verander deur die tong.  Jakobus herinner ons daaraan dat die tong so ‘n klein vuurtjie is wat ‘n groot bos aan die brand steek (Jakobus 3:5).  Dit is inderdaad ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif (vers 8).

Gelowiges val ook maklik in die slaggat van skynheiligheid.  Jakobus identifiseer só met hierdie valsheid van die mens dat hy homself hierby insluit: Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is (Jak 3:9).

Die ironie is dat my onderbewuste alles wat ek sê persoonlik opneem.  As ek negatiewe dinge van ander mense sê, sê ek dit dus van myself.  Dit is hoekom ek nooit innerlik tevrede wegstap na ek iemand gekrenk of beskinder het nie.

As jy besig is om mense te veroordeel, het jy nie tyd om vir hulle lief te wees nie (Moeder Teresa).

Liefdestaal daarteenoor gee erkenning aan die ander persoon dat hy / sy na die beeld van God gemaak is.  Dit openbaar respek vir die waardigheid van die ander.  Dit wil altyd die ander opbou en versterk.

Ouers het ‘n enorme verantwoordelikheid om hulle te weerhou van haatspraak en enige vorm van afbrekende woorde teenoor enige ander mens.  Ons moet verdraagsaam en opbouend wees in ons taal.  Ons het ‘n kritiese invloed op die taal van ons kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

neelsie ·

So maklik trap ons in die strik van negatiewe woorde.
Dink voor jy praat.!
Praat selfbeheerde genadetaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.