ToekomsVenster: Lighartig

lamp

Foto: Unsplash/Pixabay.com

“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie, maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” – Matteus 5:14-16

Werklike lig (lampolie) was ’n rare kommoditeit in die eerste eeu. Gewone mense kon eers in die 18de eeu kerse vir hul huise bekostig. Olie was dus baie kosbaar en spaarsamig aangewend.

Wat beteken dit dus om ’n lig te wees vir die wêreld in die duisternis? ’n Lig kondig die dag aan en wek mense uit hul slaap, uit hul gewone, onoplettende toestand op. Jesus verwag van ons om te skyn, om toe te laat dat die kosbare olie aan die brand gesteek word (Matteus 5:14-16).

Maar hoe bekom ons hierdie olie wat lig verskaf? Kan ’n mens dit self produseer en pers met genoeg inspanning? Ons lees o.a. in 1 Johannes 1:5 en Johannes 8:12 dat Jesus die lig vir die wêreld is. Hy is dus die olie wat in ons is en slegs as ons ’n verhouding met Hom het, kan ons Sy olie aan die brand steek. God laat Sy lig in ons harte skyn en verlig ons met die kennis van Sy heerlikheid (2 Korinthiërs 4:6).

Dink hieraan

God spreek en daar was lig. Dis die eerste handeling waarvan die Bybel melding maak. Tensy die lig al in jou deurgebreek het, is dit die vernaamste behoefte wat jy en ander het. Lig bring perspektief en lewe.

Wees vandag ʼn ligdraer in ʼn donker wêreld.

Gebed

Here, dankie dat U uself in my uitgiet sodat my lewe betekenis kan kry in ’n baie donker, soms vreesaanjaende wêreld. Wys my asseblief hoe ek hierdie olie aan die brand kan steek, sodat ek U lig kan laat skyn. Ek wil graag ’n hart vol van U lig besit. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.