ToekomsVenster: Moenie kwaad gaan slaap nie

Jesus-wat-voete-was

Argieffoto.

Ai, die brose gemoed van mense. Ons kry so maklik seer en neem so geredelik aanstoot. Om aanstoot te neem is eintlik ʼn vorm van hoogmoed. Die Bybel is duidelik oor hoe die Vader oor hoogmoed voel.

As daar iemand is wat met ʼn wrokkigheid moes rondloop was dit ons Here Jesus. Hy het na sy eiendom gekom en ons het Hom nie aanvaar nie. Hy is ʼn vraat en wynsuiper genoem en van boosheid beskuldig. Tog lees ek nie dat Jesus “seergemaak” en gekwes gevoel het en met ʼn haatdraende gevoel rondgeloop het nie. Van die laaste woorde wat Hy op aarde geuiter het was “Vader, vergeef hulle”. Wat ons van Jesus weet en lees is dat Hy nederig en sagmoedig was.

Die lewe is nie altyd maklik nie en onbeleefde kritiek vind hul weg na elkeen van ons. Die droom dat almal van jou sal hou is inderdaad net ʼn droom. Die lewe werk nie so nie. Daar sal altyd mense wees wat nie van jou hou nie.

Die omgekeerde is eweseer waar. Daar is mense wat jou ook nie opgewonde maak nie. Dit beteken nie dat ʼn mens onbeleefd en onvriendelik teenoor hulle moet optree nie. Jy het immers ʼn keuse met wie jy’t wil assosieer. Niemand dwing jou nie. Dit kan wees dat die Here jou juis na diesulkes stuur. Hy mag dit immers van ons vra.

Onbekend maak onbemind, inderdaad.

Baie van die mense wat ons irriteer of aanstoot gee is mense van wie ons letterlik niks weet nie. Ons hele gesindheid mag verander as ons ʼn bietjie moeite doen en hoor hoe die ander persoon die lewe beleef. Ons mag selfs groot waardering vir daardie persoon ontwikkel.

Moenie te gou oordeel nie, die helfte is jou dalk nie vertel nie. Suid-Afrika stel besondere eise wat hierdie saak betref. Ons het vir solank geïsoleer van mekaar geleef dat ons dikwels min begrip toon vir ander mense se uitdagings en ervarings. Spreek vry.

Moenie kwaad gaan slaap nie. Sê ‘skuus sonder dat dit van jou gevra word. Wees vir ʼn slag die minste, dit sal jou goed doen. Bind die handdoek om en was na voorbeeld van Jesus ander se voete. Dis lewensveranderend.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kornel ·

Wow, dis is so die waarheid. Ek dink almal is skuldig daaraan. Ons veroordeel mense sonder om mense te leer ken.
Baie en sommer in die meeste gevalle, nadat ons die persoon geleer ken het, is dit n wonderlike ervaring.
Dankie Here dat U my lankal hierdie les geleer het.
Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.