ToekomsVenster: My huis sal ’n huis van gebed wees

kerse-rooi-tafel

Foto: Joanna Kosinska/Unsplash.com

“My huis sal ‘n huis van gebed wees.” – Lukas 19:46

Ons vind Jesus in die tempel besig om onbehoorlike praktyke wat op selfverryking ingestel, is uit te daag en te verdryf.

Dis ʼn passievolle Jesus wat ons hier ontmoet. Ons ken Hom nie so nie. Ons ken Hom as die sagmoedige wat mense in hul nood simpatiek bedien en vertroos. Ons ken Hom as die Een wat besorg is oor die menigte wat dae laas geëet het wie se kragte gaan ingee tensy hulle iets te ete kry. Ons ken Hom as die een wat Homself nie voor die gewaande gesag van Pilatus verdedig nie. Hy beroep Hom nie op legioene engele om die onreg wat Hom aangedoen word, te troef nie.

Ons ken Hom as die Lam van God wat sy lewe aflê terwille van die redding van mense, die Herder van Ps. 23 wat sorg en versorg.

Iewers huil Jesus oor die troosteloosheid van die Godsvolk as Hy na Jerusalem staar. Hy huil by die graf van sy vriend Lasarus omdat Hy die verlange en hartseer van mense wat vir Lasarus liefgehad het, sien en weet dat die dood ʼn hardvogtige vyand is.

Hier, egter, vleg hy ʼn sweep, deel houe uit en keer die tafels van die swendelaars om. Die eer van sy Vader is op die spel. Mense maak van hul Godsverbintenis ʼn goedkoop aangeleentheid. Hy word verhandel teen die prys van skape, bokke en beeste. Alles het ʼn prys. Ook die Jode se tempelgeloof.

Dit kan nie. God die Vader kan nie op eie voorwaardes gedien word nie. Hy is heilig en moet gerespekteer word. Die ywer vir sy Vader is verterend verwysend na ʼn Ou Testamentiese Psalmteks. Ons ken die teks as “My Vader se huis sal ʼn huis van gebed wees”. Hier egter is dit bykans blatant my huis sal ʼn huis van gebed wees. Daarmee plaas Jesus Hom op een lyn met die Vader. Wie die Seun gesien het, het die Vader gesien, sê Hy op ʼn ander plek. Hy en die Vader is een.

Gemeentes sukkel deesdae om te oorleef. Die ekonomie is stram en dit het ook ʼn impak op die kerk se finansies. God kan verlore raak tussen al die gholfdae, basaars en ander geldinsamelingsprojekte. Die teks is gepas. Soek allereers die koninkryk van God en sy geregtigheid (en die wil van God) en al die ander dinge sal vir julle bygevoeg word.

Doen dit ook in jou persoonlike lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Wat sê jy nou eintlik?
Aan die eenkant doen jy voorbrand vir die kerke se finansies en aan die ander kant word die Woord aangehaal waar God se voorsienigheid belowe word indien ons eers Sy koninkryk soek.
Nie juis n kragtoer van geloof in Sy beloftes nie.
Geen wonder ons dwaal so in vandag se tyd nie. Al die speserye wat saam met die Woord gemeng word vir die regte geur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.