ToekomsVenster: ’n ander manier van doen


Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: christianheadlines.com

2 Korintiërs 5:16 Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer nie. Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

Daar is ’n diepgewortelde verhouding tussen die Drie-eenheid; Vader, Seun en Gees. Hierdie verhouding word soms beskryf met die Griekse woord perichoresis wat verwys na die inwoning by mekaar, waarbinne die Drie-eenheid funksioneer. Al drie persone van hierdie heilige gemeenskap woon in by mekaar in ’n verhouding en vorm so ’n eenheid. Alhoewel hulle by mekaar inwoon, behou hulle tog elkeen hulle aparte identiteit.

Perichoresis / relasionele / verhoudings is ’n karaktertrek van God en dwarsdeur die Bybel lees ons dat verhoudings vir God belangrik is. In Genesis wandel Hy in die tuin om met die mens gemeenskap te kan hê. In Johannes 1 lees ons dat die Woord vlees geword het – God het nog nader aan die mens gekom en in Johannes 15 vertel Jesus vir Sy dissipels dat die Gees by hulle sal bly.

Die teks wat ons vandag saamlees, beskryf die belangrikheid van versoening binne verhoudings. Verhoudings kan herstel, ons kan oor begin.

Om met en deur verhoudings te werk, help in die verkondiging van die boodskap. Dit maak net ’n deur op ’n ander manier oop. Ek word eers jou vriend (bou ’n verhouding met jou), dan begin ons gesels oor die lewe. Wanneer ons by lewensvraagstukke kom soos hartseer en verhoudingsverbrokkeling gee dit my kans om jou te vertel van die verhoudingsbouer, God. Jy en ek is klaar in verhouding waarin daar ruimte is om oor sake van die hart te praat.

Gebed:

Ek wil vandag bid vir al die verhoudings waarin ek staan. Dankie vir hierdie verhoudings. Ek wil ook bid vir hulle wat my pad elke dag kruis. Ek dink aan die skooljuffrou, petroljoggie en skoonmaker. Dankie dat ek vandag vir hulle kan intree. Amen.

Leefwyse:

Skryf neer by hoeveel mense (verhoudings) jy betrokke is. Van jou familie, vriende, werk, skool en ontspanning – al die verhoudings waarbinne jy staan.

Iets om vandag oor na te dink:

Hoekom dink jy is verhoudings so belangrik? Dink jy dat dit makliker is om iemand te help, iemand van God te vertel as jy in verhouding met hom / haar staan? Wat dink jy is die beste manier om verhoudings te bou?

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.