ToekomsVenster: ‘n Ander soort liefde


Liefde-02-Soekie-Krog-Facebook

Foto: Soekie Krog/Facebook.

Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. – 1 Kor 13:5-7

Liefde in een van daardie woorde wat ons baie gebruik. In elke taal word daaroor gesing. In byna elke taal is daar die mooiste gedigte oor liefde. Elkeen wat verlief is of was, sal weet hoeveel emosie met hierdie woord saamgaan.

Om lief te hê is egter moeilik. Miskien moet ek eerder sê dat egte liefde erg moeilik is om uit te leef. Dis veral moeilik as Paulus sê dat liefde die een bestanddeel van ons Christelike lewe is wat dwarsdeur die lewe en tot in ewigheid sal bestaan (1 Kor 13:13). Liefde hou! Dit is in skrille kontras met wat ons elke dag sien. Liefde droog op. Hoe langer mense mekaar ken, hoe minder hou hulle dikwels van mekaar. Die grens van liefde na haat is iets wat maklik oorgesteek word.

Hoekom is dit so? Een rede is dat ons misverstaan wat liefde is. Dit gebeur in huwelike, tussen vriende en in gemeentes. Ons het die wêreld se beeld van liefde met hoek en sinker ingesluk. Wat is hierdie beeld? Dit is dat liefde gebou is op iets wat ons in die ander persoon sien of kry. Dis liefde op grond van wat die ander persoon my kan bied.

Die Bybelse beskrywing van liefde is so anders! God se liefde werk nie so nie – dank Hom daarvoor! Hy het ons lief ten spyte van wie en wat ons geword het. God het die wêreld onvoorwaardelik lief. Toe ons nog sondaars, goddeloos en vyande van sy liefde was, het Christus vir ons gesterf (Rom 5:6-10). God het nie gesê dat ons eers moet beter word, sodat Hy ons kon liefhê nie.

Dis omdat Paulus hierdie liefde ontvang het dat hy ook kon skryf oor liefde ten spyte van. Dis die liefde wat die gemeente en ons verhoudinge met mekaar behoort te kenmerk. Dit hou nie boek nie. Dit laat ‘n genadige skaduwee oor die sonde van ander val. So bedek ons en beskerm ons ander.

Ek weet dis nie maklik nie. Dit gebeur net wanneer die Gees besit neem van ons lewe. Dis wat Paulus in 1 Kor 12-14 sê. Die allerbeste gawe wat die Gees aan almal uitdeel wat Jesus as Here bely, is hierdie liefde – nie op grond van nie, maar ten spyte van!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Roela ·

Vader leer my wat opregte liefde is leer my wat U met liefde bedoel. Ek ken net liefde en aanvaarding so lank ek kan gee, kan voorsien. Abba Vader leer my om nie van ander se ” sogename liede ” afhanklik te wees nie. Maar dat U liefde v my alles sal beteken. Ek weet dit is makliker om dit te kan aanvaar as dit goed gaan , en regtig moeilik as n mens nie meer weet watter kant toe nie. Daar is niks wreeder as n ander mens nie. Vader leer my om net U liefde in my lewe toe te laat help my asseblief Here. Nou oet ek net vertrou op U tyd en nie myne nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.