ToekomsVenster: ’n Geel vlag vir hulp

hande-in-gebed

Argieffoto.

‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. – Johannes 10:10

Interessant hoe gou ʼn idee posvat, nie waar nie?

In ons omgewing is daar baie mense wat swaarkry in hierdie tyd. Onder normale omstandighede was dit al ʼn gesukkel om te oorleef. Met die inperkings saam het dinge vir baie vererger. Alhoewel daar van allerweë vir diegene hulp kom bly die nood tasbaar.

Dit moet baie erg wees om in ʼn ry in te val en te hoop dat jy vandag een van die gelukkiges gaan wees wat gehelp word. Covid-19 het die omvang van armoede en verwaarlosing in ons land sigbaar na vore gebring.

Geel plastieksakkies en – vlaggies aan die hekkie dra die boodskap sigbaar oor: “Help ons, ons is honger”.

Dat sommige die geleentheid misbruik is seker nie onwaar nie. Dit lê in die aard van mense dat ons sommer baie gou op onsself gerig word en ander nie in ag neem nie. Dalk is die onsekerheid oor volgende week die rede waarom mense steeds honger pleit.

Om hulp te vra is nie lekker nie maar ʼn volwasse manier van dinge doen. Om van ellende te vergaan terwyl daar hulp beskikbaar is, is mos dom.

In oordragtelike sin dink ek aan mense, gelowiges wat weet dat daar skort in hul emosionele of geestelike welsyn, maar te trots is om hulp te vra.

Trots is sonde, sê die Bybel. Dit kan as nederigheid aangebied word maar is deursigtig onbetaamlik. In die proses kry baie ander mense seer. Ek dink aan vele gestaltes van emosionele en geestelike nood.

Om nood te hê is nie ʼn skande of ʼn sonde nie. Om stil te bly en nie hulp te ontvang nie terwyl dit beskikbaar is, is nie reg nie.

God gee gawes waarmee sy mense bedien kan word. Hulpverleners van allerlei soorte is doodgewoon besig om hul roeping uit te leef.

Ons het almal iets om te gee. Dit is egter waar dat die meeste van ons, indien nie almal een of ander tyd hulp en ondersteuning nodig het.

Die lewe is uiters kompleks en ʼn mens kan nie altyd voorberei vir die krisisse wat op jou pad kom nie. Om as gekweste, met alle empatie tot my beskikking, ʼn slagoffer mentaliteit voor te hou terwyl ondersteuning beskikbaar is, kan nie vergoeilik word nie.

Reik vandag uit. Hang ʼn geel vlag om jou nek, jou hart of jou gesin. Vra wie jou kan help en word gesond. Immers, die Seun het gekom dat jy die lewe en dit in voluit kan geniet. Die bose het genoeg gesteel. Vat terug wat verbondsmatig aan jou behoort.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.