ToekomsVenster: ’n Lewe in die greep van God

Foto: Marcus Woodbridge/Unsplash

Lees gerus Matt. 14:28-32 wat vertel van waar Petrus op die water loop.

Die lewe is rof. Dit is soos ʼn diepseevisvang ervaring en die golwe is onrustig rondom jou. Boonop is die vis skaars en die wat jy aan die hoek kry kom weg. As jy nog iets uittrek is dit nie iets wat jy graag wil gebruik nie. Maar as jy weer jou voet aan wal sit vertel jy van die avontuur wat jy gehad het. Ander kyk met leepoë en wens dat hulle die waagmoed gehad het om dit saam met jou op die water te waag. Vir die meeste bly dit egter net wensdenkery. Hier en daar neem iemand die risiko.

Roekeloosheid is iets anders. Die lewe is ook uiters kosbaar en moet as ʼn gawe uit die hand van God waardeer word. Die verskil tussen verantwoordelik en onverantwoordelik as dit by die lewe en die risiko’s wat jy neem kom is somtyds papierdun.

Die heerlike wete dat jy as mens in die greep van ʼn liefdevolle en almagtige God is, is uiters kosbaar. Hy is soos ʼn onsigbare hand wat jou vashou. My professor het somtyds sy hand oopgehou en gesê: “Kyk menere, Hy hou die hele wêreld in sy hand”. As Hy sy hand toemaak is alle bestaansmoontlikheid daarmee heen maar, om Christus ontwil, doen Hy dit nie. Hy is die God van tweede kanse, die God van weer begin en weer probeer.

Omarm die lewe as gawe. Leef uit die sekuriteit dat die Here jou omhels en vashou. Wees verantwoordelik maar daag jou gemaksones uit. Waag dit op die diep see. Jy weet nie wat jy aan lyn mag kry nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frieda ·

Dankie vir elke dag se boodskap dis ‘n wonderlike handleiding.

koos ·

Amen!, ek het hierdie boodskap nodig as ek so lees wat aangaan in ons land. Cry the beloved country.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.