ToekomsVenster: ’n Reddingsboei en soveel moontlikhede

Foto: Markus Spiske/Unsplash

As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. – 2 Kron. 7:13-14

Jy mag voel dat daar ʼn gevoel van  negatiwiteit in die lug is met hierdie kort reeks. Ek kan jou egter verseker dat dit nie negatief is nie maar bruis met moontlikhede. Die teks en die uitlewing daarvan is soos ʼn reddingsboei, dit is die begin van die herstel, van vernuwing en restourasie in ons persoonlike en gemeenskaplike lewe.

Het jy raakgelees?  – die teks sê.. “as Ek die sprinkaan beveel”. God die Een wat die ongemak stuur?

Dit is nogal ʼn vreemde gedagte omdat ons God mos ken as die goeie God wat nie slegte dinge doen nie en tog: “Ek pes onder my volk stuur en Ek die reën weerhou”.

God is bereid om tot uiterste te gaan as dit net sy volk by die punt van bekering sal bring.

Dan die uitkoms en uitnodiging: “En my volk, (die uitnodiging bruis met ʼn nuwe moontlikheid) toon berou, bid, vra na my wil”.

Wat is God se wil in so ʼn vyandige wêreld, mag jy vra?

In die onlangse verlede was daar ʼn inisiatief met die naam “draai terug, SA, draai terug”.

Maar het ons teruggedraai? Teruggedraai van dit wat verkeerd is, die Bybel sê, bose wee.

Sjoe, die Here praat van onsmaaklikheid in die lewe van sy volk.

Onbegryplik en hartseer dat die Here sy kinders op hierdie wyse moet teregwys.

Dan egter die heerlike belofte, die reddingsboei uit die troonsaal van God: “Sal Ek luister uit die hemel”.

Hemel verwys hier na die transendensie, die grootheid en Almag van God. Enersyds om aan te dui dat Hy in staat is en andersyds om aan te dui hoe arrogant sonde teen die Allerhoogste is. Hoe verwaand kan mense nie wees nie?

En tog: “Sal Ek hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel”.

“Laat herstel” dui moontlik daarop dat herstel soos afvalligheid ʼn proses is. Dit gebeur nie oornag nie maar met verdrag. So ook die herstel wat God bring. Die nuwe lewenswyse van God se kinders moet nou die slegte, sondige en opstandige teëwerk. Dit neem tyd.

Die Bybel sê immers, “die arm nie te kort en oor nie te doof om te hoor nie”. (Jes.59:1,2)

Jy is bekend met die teks in 1 Joh. 1:9: “As ons ons sonde bely Hy is getrou en regverdig”.

Ek wonder of ek dit kontekstueel getrou kan voorhou: “As my kerk, my kinders in Suid-Afrika, berou toon, bid en my aangesig soek sal ek uit die hemel luister en Suid- Afrika laat herstel”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Ag Here ek kom kniel vanoggend voor U Voete en kom bely my sondes…Here vergewe ons….U Genade is vir ons genoeg….Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.