ToekomsVenster: ’n Son van redding en geregtigheid

Foto: Federico Respini/Unsplash.com

Die teks in Maleagi is aangrypend, ek is seker jy ken dit:

Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. – Maleági 4:2(OV)

Die nuwe vertaling lui: Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.

Sjoe, dis mooi. In my verbeelding sien ek die kalwertjies sorgvry rondspring van louter vreugde. Daar is nie ʼn kwelling in die lewe nie.

Ek lees – Die son is die ster in die middel van ons sonnestelsel. Die aarde, asook verskeie ander materie soos planete, asteroïdes, meteoriete, komete en stof, wentel om die son.

Wat is die eerste ding wat jy soggens doen wanneer jy wakker word? Jy trek waarskynlik die gordyne oop, waardeer die nuwe dag wat aangebreek het, strek heerlik en mik vir jou eerste koppie koffie.

Ek so dankbaar die nag hou nie vir altyd aan nie. Die son bring lig en perspektief.
Ek verstaan van die uitspansel en die grootsheid daarvan bittermin maar het met die vraag wat sou gebeur as die son ophou skyn my Google gewend. Sy beweer dat alle lewe uiteindelik sal ophou.

Een rede is dat fotosintese nie sal plaasvind nie, derhalwe sal mens en dier nie voedsel hê om te eet nie. Daarbenewens sal die aarde se temperatuur bly val wat uiteindelik lewe onmoontlik maak. Een inskrywing wil dit hê dat die mens ongeveer 8 minute sal kan leef. Die aarde sal uiteraard pikdonker word en die maan sal nie langer skyn nie.

Ons dra te swaar aan onnodige laste.

Daar is ʼn liedjie wat gesing word met die woorde – dis so lekker om die Here te dien. Dan die tweede vers – dis so swaar om my laste te dra.

Ai tog, waarom sou ons ons laste wou dra? Sê die teks nie “Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en ek sal julle rus gee nie. My las is sag en my juk is lig”. ( Matt.11:28)

Die Boodskap se vertaling lees: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek.

As dit skaaf rondom die skouers kan dit wees dat ons die verkeerde bagasie beet het.

Môre sal die son weer skyn, die bekende woorde van ʼn eweneens bekende lied.
Miswolke sal verdwyn
Glimlag deur die stormwind
Want jy is mos ʼn Koningskind

Die Son van geregtigheid, genade, liefde en omgee hou nooit om oor jou lewe te skyn nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.