ToekomsVenster: ’n Teken van die seën van die Here

olies

Foto: Couleur/Pixabay.com

Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. – Jak. 5:9

Klaarblyklik het gelowiges mekaar aangekla by die leiers in die gemeente. Hierdie aanklag was waarskynlik meermale kwaadwillig en gebore uit jaloesie. Jakobus vind sulke gedrag nie aanvaarbaar nie. Gelowiges moet in eenheid met mekaar saamlewe.

Psalm 133 kom in ʼn mens se gedagtes op. Dis goed en mooi as broers eensgesind saamwoon sê die digter. Dit is soos olie wat oor Aaron se hoof uitgegiet word en oor sy baard sy klere tot op die grond drup.

Psalms 133:2 – Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere.

Olie is teken van die seën van die Here. Wie eenheid nastreef word deur die Here geseën. Gemeentes word gereeld gemaan om nie onderling verdeeld te wees nie maar mekaar in liefde te dien en te aanvaar.

Wat aanleiding gegee het tot hierdie toedrag van sake (verdeeldheid) is nie heeltemal duidelik uit die konteks nie. Jakobus gee nie meer inligting nie. Wat duidelik is is dat wie sy broer veroordeel self skuldig staan voor die Here. Die Regter, God oordeel nie oppervlakkig daaroor nie. Dit was juis een van die kentekens van die gemeente in Handelinge net na die uitstorting van die Heilige Gees. Die onderlinge eenheid en mededeelsaamheid het ander se verbeelding aangegryp. Dit was prysenswaardig. Op ʼn ander plek praat Paulus daaroor dat gelowiges in stede daarvan dat hulle sake onderling besleg, mekaar wêreldse howe toe sleep.

Lukas 12:58 – Terwyl jy saam met jou teenstander op pad is hof toe, moet jy moeite doen om die saak met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep en die regter jou aan die polisie oorgee en die polisie jou in die tronk sit nie.

1 Kor. 6:1 – Gaan iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander gelowige het, werklik so ver dat hy sy reg by heidense regters soek en nie by gelowiges nie?

Daar is ʼn regte manier van doen: “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.” – Matt 18:15

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.