ToekomsVenster: Nie ek nie maar Hy

Foto: Aaron Burden/Unsplash

Johannes 1:29-34 – Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ‘n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.” Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Ons moet ons plek voor God ken en nie daarvan vergeet nie. Ek luister na ʼn opname waar die persoon wat die voordrag lewer so arrogant, self voldaan en opgesmuk is dat ʼn mens daarvan kan naar word. Benewens die feit dat hy ʼn ander bedienaar van die Woord bespreek en eintlik beskinder en dit in die openbaar is daar van nederigheid nie sprake nie.

Ek mag nie oordeel nie en doen dit ook nie maar voel nie nader aan die Here en sy wonderlike genade nadat ek na hom geluister het nie.

Nederigheid is een van die besondere kenmerke van ʼn kind van die Here, soveel te meer as hy homself geroepe voel om die Woord as lewensroeping te verkondig. Die gelese gedeelte herinner oor Wie dit gaan. Die woorde “daar is, dit is Hy en Hy is die Seun van God” plaas die fokus waar dit hoort. Nie ek nie maar Hy. Selfs nie eers my kerkverband en verstaan van die Teologie nie maar sy Koninkryk en die beginsels wat daar geld waarvan die vernaamste liefde vir die ander is.

God hou nie baie van trotse en hoogmoedige mense nie. Ons moet daarteen waak omdat dit altyd weer in ʼn ander gedaante na ons toe kom.

Johannes getuig dat hy aanvanklik nie geweet het wie Hy, Jesus is nie totdat die Gees soos ʼn duif op Hom gedaal en hy die stem uit die hemel gehoor het. Toe weet hy dat Jesus die Een is wat met die Heilige Gees en met vuur doop.

Johannes ken sy plek, die woordjie “sodat” getuig daarvan. Hy staan in diens van God sodat Jesus aan die wêreld bekend gestel en verkondig kan word. Alles wys op Jesus, sy genade, liefde, sorg, omgee en voorbeeld.

Hoor weer saam met my die belangrike frases – “daar is die Lam van God, dit is Hy wat die sonde van die wêreld wegneem, die Gees bly op Hom en Hy is die Seun van God”.

Ek, ek is ʼn begenadigde en onverdienstelike slaaf wat liefdesdiens uit dankbaarheid verrig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here Jesus U het in nederigheid die weg vir ons kom baan…dankie dat U my toelaat om in U voetspore te stap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.