ToekomsVenster: Nuwe lewe wag op jou

(Foto: Unsplash.)

Eseg. 37:1-6 – Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ‘n laagte. Die laagte was vol bene. Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog. Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

Die Bybel is ʼn wonderlike boek en die inhoud daarvan is geloofwaardig en buitegewoon betekenisvol. Ps. 119 getuig van die belangrike samehang tussen die lewe aan die een kant en gehoorsaamheid aan die Woord.

Dit is ʼn voorreg om die Woord van die Here in jou eie taal te kan lees en die Gees te kan vertrou om dit duidelik te maak.

Daarbenewens bestaan daar ʼn magdom van merkwaardige hulpmiddels wat die Woord vir gelowiges ontsluit.

As ʼn mens dink aan hoeveel mense hunker na die Woord, of in hul eie taal, of in ʼn konteks van vryheid, of net bekostigbaar dan is ʼn mens dankbaar dat die Woord in die meeste huise wil ek glo teenwoordig is. Ons moet die Woord nie verwaarloos nie omdat die effek daarvan weldra duidelik word.

Miskien is dit gepas om te vra wanneer laas jy en ek die Woord gelees, selfs meer as dit, bestudeer en daaroor gemediteer het?

Die gedeelte wat ons gelees het is baie bekend en baie betekenisvol. Die metafoor van doodsbeendere wat baie droog is spreek ʼn mens aan, veral binne die konteks waarbinne ons onsself te midde van Covid-19 bevind. Somtyds lyk dit inderdaad of die lewe die laaste bietjie asem uit jou gewurg het. Vir baie was Covid die laaste strooi. Die lewe was reeds baie uitdagend en toe kom Covid ook nog. Somtyds is dit sommer ʼn klein ou dingetjie wat die appelkar omgooi.

Ons almal het beperkte kapasiteit en kan net soveel slegte nuus, hartseer gebeure en weerstand hanteer. Die profeet sien die desperaatheid in die gees ervaring van die mense  raak. Dit is ʼn simbool van Israel se geestelike en emosionele ervaring. Dit het net te veel geword. God voel ver weg en van uitkoms is daar nie sprake nie, altans nie wat hulle kan sien nie.

Doodbeendere getuig tog van “dit het te laat geword”. Die dood is die laaste beweging.

Wat kan tog na die dood kom?

Dan word die profeet opdrag gegee om oor die beendere te profeteer. As die gesagvolle Woord van God gedra deur die Gees oor die desperate mense gespreek word kom daar beweging. Weldra is daar ʼn taakmag wat op hul voete staan. Wanneer die Gees van hulle besit neem word dit ʼn menigte om mee rekening te hou.

God praat laaste. Ongeag wat met jou gebeur of gebeur het. Die laaste woord behoort aan Hom. Laat Hom toe om lewe in jou te wek. Dit is nooit te laat nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.