ToekomsVenster: Omarm die lewe vir ’n gelukkiger lewe

Foto: Kal Visuals/Unsplash.com

Wanneer is ʼn mens gelukkig? Is jy gelukkig? Wat beteken geluk?

Psalms 128:2 – Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, gelukkig en voorspoedig sal jy wees.

2 Korintiërs 1:24 – Ons wil nie as heersers voorskryf wat julle moet glo nie. Julle staan immers vas in die geloof. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder.

Ons almal wil sinvol, vervuld en betekenisvol lewe, kortom, ons wil gelukkig wees. Dis mos ook van jou waar?

Baie jare gelede het, terwyl ek op ʼn slegte plek in my lewe was en gesmag het na innerlike vrede en geluk, ʼn mede-dissipel, goedbedoel, maar baie oortuig vir my gesê dat God nié belangstel in ons geluk nie. Dit het min bygedra om my reeds stukkende menswees op koers te kry.

Gelukkig weet ek vandag van beter, en net in geval jy ook soekend is, stel ek dit sonder om te twyfel en op gesag van die Skrif – jou geluk is vir God belangrik. Gedurende die volgende dae wil ek graag ʼn paar beginsels vir ʼn gelukkige lewe met jou deel.

Vandag – omarm die lewe, dis kosbaar.

Mens kan gelukkig wees te midde van minder ideale omstandighede. Die manne wat op straathoeke allerlei snuisterye verkoop is dikwels vir my ʼn aansporing en voorbeeld. Ek het nog nooit een teëgekom wat my afgejak het omdat ek nie in sy produk belangstel nie. Dis is meermale ʼn beleefde glimlag voordat hy na die volgende voertuig loop. Dan is daar die manne met die bordjies. Ai, dis hartseer.

Ek ken mense met min geld, maar baie vreugde, mense met min aardse besittings, maar gelukkig. Ek ken mense met min geleerdheid, maar opgewonde. Ek het al by baie beddens gebid waar daar geen hoop meer is nie, maar ʼn aansteeklike tevredenheid.

Die teenoorgestelde is ook waar. Ek ken mense met baie aardse besittings maar siels-ongelukkig. Natuurlik is daar nie fout te vind met aardse skatte nie. Die Bybel leer ons egter dat ons skat in die hemel moet wees waar geen mot en roes verniel nie. Dit beteken uiteraard nie dat ons nie moet aspireer en hard werk om ʼn bevredigende lewenskwaliteit te hê nie. Wat dit presies behels verskil van mens tot mens.

Dit gaan oor die lewe as geskenk van God. Op aarde eenmalig, dit word nooit weer herhaal nie.

Matteus 6:25 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

Daar is mense wat die lewe as sodanig tot vyand verklaar het. Hulle verwens hul geboortedag soos Job. Toegegee, Job se swaarkry was buitegewoon maar om die lewe tye verwens los niks op nie.

Omarm die lewe as buitengewoon kosbaar. Ervaar die wonder van elke asemteug, beweging, gedagte en droom. Ervaar die onskuld van ʼn kind. Hy weet sy Vader sorg vir hom. Bekommernis bestaan nie want daar is ʼn ma en pa wat sorg. Kry klaar met negatiewe gedagtes wat jou hele menswees vergiftig. Los iets vir God, moenie probeer om alles op te los nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

Dankie Jannie, ons het almal hierdie boodskap van “vrede wat alle verstand te bowe gaan” nodig!

Elna ·

Baie mooi en waardevolle boodskap. Baie baie dankie. Dit laat n mens soveel beter voel en gee mens moed om die beter waardevolle dinge van die lewe raak te sien

Kornel ·

Wonderlik. Dis vandag die tweede keer wat ek Matteus 6:25 lees. Per toeval – nee. Ek se dit is die soeke na vrede in jou lewe en die Here gee antwoorde. Ek het nooit verstaan as iemand se jy moet luister na God nie. Hoe meer ek begin soek het, hoemeer het ek begin hoor. Hierdie is vir my n belydenis dat ek WEET GOD lewe en Hy wil ons help. Hy wil ons omstandighede verander. Vandag weet ek dat my en my gesin se lewe en lewens pad baie vinnig besig is om te verander. Ons Loof en Prys Ons Vader daarvoor. GeSeende dag vir almal.

Kornel ·

Dis die tweede maal dat ek vandag Matteus 6:25 lees. Is dit per toeval – NEE. Die Here praat met ons, ons moet net leer om te luister. Ek het die beginsel van LUISTER NA GOD nooit verstaan nie. Hoe meer ek begin soek het na die Here, hoe meer het ek begin hoor. Ek stem saam dat die Here ons wil gelukig sien, as n ouer, wil ek my kinders gelukig sien. My belydenis is dat ek vandag weet dat die Here ons as gesin se lewe besig is om te verander. Ek bid dit vir almal wat vandag hulp nodig het en hulle lewe ook wil verander. GeSeende dag vir almal.

Maria ·

Dankie Here u weet dit nodig gehad en U praat met my dankie vir u boodskappe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.