ToekomsVenster: Ons almal het ’n vervaldatum

(Foto: Ryan Crotty/Unsplash.)

1 Korintiërs 15:58 – Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

Gedurende hierdie Covid-19-pandemie het predikante en pastore dikwels die hartseer verantwoordelikheid om iemand wat vanweë die virus gesterf het, te begrawe. Dit is buitegewoon traumaties om te verneem dat iemand na aan jou positief toets.

Die onsekerheid wat aan hierdie siekte kleef kan ʼn mens waansinnig maak. So gebeur dit dan ook dat mense inderdaad sterf.

Hartseer familie lede, vriende en kollegas sit op ʼn afstand, ver van mekaar, maskers op die gesig, temperatuur vooraf gemeet, in die andersins leë kerkgebou. Net enkeles word toegelaat om die geleentheid by te woon. Die hartseer is tasbaar en snikke gaan vanuit die gehoor op.

Soos dit deesdae gebeur word ʼn elektroniese huldeblyk gelewer wat die lewensloop van daardie persoon in oënskou neem. Van kleintyd tot heel onlangs word die wel en wee van die persoon, die mense wie se lewe hy geraak het, die nalatenskap van die persoon, gevier. Dit hoort ook so. Daar is geen fout mee te vind nie.

Na die verrigtinge gaan almal wat die geleentheid by gewoon het terug na die lewe. Die begrafnis verteenwoordig ʼn kort verposing tussen elke dag se besig wees. Nie lank nie en die hartseer raak op die agtergrond en ʼn mens word weer deel van die rotte resies, jou beste voorneme om dinge voortaan anders aan te pak, ten spyt.

Dan gebeur die volgende begrafnis en die hele proses herhaal homself.

Dit is maar hoe die lewe is. Daar is nie veel genade nie. Die lewe wag vir niemand nie.

Dit is ʼn stryd om te oorleef en elkeen moet doen wat gedoen moet word. Finansiële onafhanklikheid word nagestreef en voorsiening gemaak vir onseker tye.

Dit is alles in orde maar ʼn mens moet nie vergeet dat ook jy ʼn verstrykdatum het nie.

Eendag sal mense hartseer bymekaar kom van jou en my afskeid te neem.

Die gedagte is nie aangenaam nie en ek probeer nie daaraan dink nie. Dit beteken egter nie dat dit nie ʼn realiteit is nie. Dit is die verloop van die lewe.

Leef so dat wanneer jy opgeroep word vir ’n hoër diens jy voorbereid is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Dit laat my dink aan die tyd van die Anglo – Boereoorlog. Tydens ‘n biduur het daar nuus gekom dat Kitchner dood is. Die ouderling wat met sy gebed besig was het dit gehoor. Hy las toe aan, “Vader ons verneem van die heengaan van die geagte heer Kitchner wat vir hoër diens opgeroep is. Daar is nog vele ander wat U ook kan oproep”. Ek wil my verstout om dieselfde vir die Vader te vra dat daar tans hier by ons ook ‘n hele klomp waaraan ek dink wat vir hoër diens opgeroep kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.