ToekomsVenster: Ons sal self

(Foto: Nikola Knezevic/Unsplash)

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op God gelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. – Fil. 2:6-7

Ons leef te midde van die teleurstellende prestasie van tientalle plaaslike owerhede, met name munisipaliteite in Suid-Afrika.

Skuld uitdeel is maklik en waarskynlik heel gepas. Vaardighede ontbreek vanweë bedenklike aanstellings, gegrond op verbintenisse en lojaliteite, eerder as akademiese en tegnologiese vermoë.

Wanbesteding en verskeie vorme van onverantwoordelike prosedures is oorbekend. In die proses verval die infrastruktuur en die neem nie lank vir die toedrag van sake om te eskaleer nie.

Die frustrasie van die plaaslike gemeenskappe kook oor en niemand kan hulle dit kwalik neem nie. Onskuldige en brose kinders en bejaardes ly erg daar onder.

Mense wat in staat is daartoe soek doodeenvoudig ʼn ander heenkome omdat die konteks nie aan hulle en hul kinders ʼn gesonde groei omgewing bied nie.

Stadig maar seker bloei die omgewing dood. Besighede maak toe en wat oorbly is geboue en strukture uit vervloë se dae.

Om net daaraan te dink dat kinders steeds van onhigiëniese fasiliteite gebruik moet maak by die skool in ʼn postmoderne wêreld is ondenkbaar en ontstellend.

Soos reeds gesê, ons kan lank en energiek en opswepend gesels oor die onvermoë van plaaslike owerhede om hul mandaat na behore uit te voer.

So krepeer ons saam. Al klaende en verwytend word die grond onder ons voete uitgegrawe totdat daar bitter min oorbly.

Of ons kan die situasie netjies opsom, ons gevolgtrekkings maak, bymekaar kom en kajuitraad jou, planne beraam en innoverende denke op die tafel plaas, ons hande ietwat vuil maak, self die graaf, pik en besem opneem en begin opruim.

Sonder verwyt, sonder vingerwys, stil dankbaar dat God ons ook in hierdie stuk Koninkryk gebeure ondersteun.

Immers, dit is na so ʼn stukkende en sukkelende wêreld waarin die sonde hoogty vier, dat God sy Seun in die volheid van die tyd gestuur het.

In oordragtelike sin is dit wat Jesus op aarde kom kry, het seker ook maar ver van ideaal. Hy het egter Homself aan sy Vader aangebied en die stofstrate van Palestina geloop en Goeie Nuus gebring en belangrik, gedemonstreer.

Hy het niks gevra wat Hy nie self gedoen het nie. Hy het gewys hoe. Hy het wat stukkend, ontoereikend, ja selfs onwelriekend was, deur sy opofferende genade kom ophef.

Hy het vir ons ʼn voorbeeld kom stel wat in alle opsigte van geloofwaardigheid en integriteit getuig. Sy voorbeeld is navolgenswaardig.

ʼn Mens het die grootste waardering vir gemeenskappe waar die inwoners ʼn streep in die sand trek en sê “ons sal self”.

Nie ʼn selfsugtige laer-trek aksie nie maar ʼn ten behoewe van almal wat aan die ontvangkant staan en nie vir hulself kan sorg nie.

Soos in Nehemia se tyd spot en dreig die omstanders, sommige omdat hul eie onwilligheid en onvermoë grafies ten toon gestel word, desnieteenstaande, herbou elke mens die muur voor sy huis.

Ek haal my hoed spreekwoordelik af vir die voorbeeld wat in sommige gemeenskappe gestel word.

Dit is wat Jesus sou gedoen het verwysend na die armbandjie wat ons op ʼn stadium gedra het wat lees, “what would Jesus do?”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U vir elkeen van ons n voorbeeld kom stel het…..in Jesus naam

annie ·

Om mense te betaal om sekere werk te doen en wanneer hulle dit nie doen nie, dit self te doen is erger as slawery; dit is genoeglike masogisme. Afrika ken net die storie van die barmhartige Samaritaan wat sekere kerke nou daagliks verkondig en so word die Bybel ‘n wapen vir ideologiese doelwitte. Gaan die wittes nou hoop om via slawe-wat-hul-base-vergoed, die hemel te beèrwe? Dit ìs brute sonde.

OW ·

Geen regering bestaan sonder God se toedoen nie en die regering is daar om na die beste belange van sy inwoners om te sien volgens Rom 13:1-7.Wat moet dan gedoen word as die regering dan nie sy verpligtinge nakom nie?Ek glo daar kan dan opgetree word en die moontlikhede is legio.Terughou van belastings,om maar een te noem,om te verseker dat die geld aangewend word waarvoor dit bedoel is.Ek glo mens kan ook nie agteroor sit en net toekyk,en sien hoe toestande verswak en niks doen nie.SA regering gaan nie na ons omsien nie en planne en kreatiwiteit moet nou gebruik word vir oplossings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.