ToekomsVenster: Op die pad van God

bid-vrou-son-stiltetyd.jpg

(Foto: Pixabay)

God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. – Hebreërs 2:10

Die Bybel is nie onduidelik nie, trouens, baie dinge word eksplisiet gesê. Daar is nie ruimte vir misverstand of interpretasie nie. Dit staan duidelik, swart of wit, by wyse van spreke, God, “ter wille van wie” en “deur wie”.

Wat is daarby ingesluit en wat is daarby uitgesluit? Dit word deur die woordjie “alles” bepaal. “Alles” het deur God sy ontstaan gehad. Hy is die groot Beginsel, die Argitek, die Outeur, die Rede, die Oorsaak en die Vonk, “deur wie alles ontstaan het”.

In die begin leer die Bybel ons het God gespreek, ʼn gesagswoord, en die chaos het daarop reageer. Wanneer God spreek kom daar orde en dit was nie anders met die skepping nie. Uit niks skep Hy die hele bekende wêreld. Mens en dier en alles daar tussenin, is deur Hom “gespreek”.

Die aarde en die volheid daarvan, alles. Die sterre en die see, die berge en die riviere, die visse en die voëls, getuig van sy almag, grootheid, heerlikheid en merkwaardige kreatiwiteit. Hy is ʼn kunstenaar by uitnemendheid. Wat Hy gemaak het, die mens inkluis, vervul Hom met ʼn gevoel van genoegdoening en tevredenheid.

Hy bly steeds betrokke, onderhoudend en versorgend. Hy skep nie net nie, Hy sorg ook vir dit wat Hy geskep het. Hy versorg veral deur die mens daarby te betrek.

Daar is baie wetenskaplike teorieë van “hoe” God geskep het. Dit is immers die  taak van die wetenskap. Die wetenskap staan sprakeloos voor die werke van sy hande. Dit is en bly egter God se handewerk wat bestudeer word.

Nie net “deur wie” nie, maar “ter wille van wie”. “Alles” beteken, alles. Niks is daarvan en daarby uitgesluit nie. Die “alles” sluit ons as mense in. Ons bestaan “ter wille” van Hom.

Ons verklaar nie ons onafhanklikheid of ons eie koninkryk nie.

Ons gebed is: “laat U Koninkryk kom, laat U naam verheerlik word, Laat U wil geskied”. Dit is duidelik dat baie mense in die wêreld die teks nek omgedraai het. Hul gebed is eerder  “my koninkryk, naam en wil” moet geskied en werp alles in die stryd om dit ʼn werklikheid te maak.

Maar niemand kan twee here dien nie. Dis God of Mammon, Dagon, Astarte, Baäl. Dit is God of eie belang, materialisme, self beheptheid.

Hoe voel jy daaroor? Is jy dalk so selfversekerd dat daar nie plek is vir God nie? Is dit uit jou lewe, woorde en dade duidelik dat jy, toegegee, somtyds strompelend en sukkel-sukkel, jou op die pad van God bevind.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.