ToekomsVenster: Pinkster se vrede

vrou_vrede_natuur_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Romeine 15:13 – Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Ons hoor die seënbede dikwels aan die begin of einde van ʼn erediens: “Genade en vrede van God ons Vader deur die Heilige Gees”. Die tyd waarin ons lewe kan nogal met ʼn mens se vrede smokkel by wyse van spreke. As ʼn mens eers jou vrede verloor het tuimel alles sommer gou gou inmekaar.

Die Bybel praat van ongekende vrede. Dit is ʼn allesomvattende en insluitende vrede. Dis vrede uit die hemel, Goddelik, onvergelykbaar en troosryk. Dit herinner ʼn mens aan die shalom van die Bybel.

Pinkster-vrede is vrede deur die Heilige Gees. Hy is die Vredemaker, die Vredesgesant by uitnemendheid. Die vrede kan inter- en intrapersoonlik wees.

As mense raak ons somtyds haaks met ons medemens. Dit is verstaanbaar dat ons van tyd tot tyd van mekaar sal verskil maar somtyds kom ons vrede in gedrang. Ons sukkel om ons los te maak van die emosie wat met die geskilpunt gepaard gaan en betaal ʼn duur prys daarvoor.

Toegegee, somtyds is die onvrede van die Heilige Gees, ʼn oproep om jou vertrekpunt te herbesoek en weer na te dink oor jou standpunt. Somtyds wil die Heilige Gees ons daaraan herinner dat ons in alles soos Jesus moet optree, selfs te midde van verskil van mening.

Ander kere vind die bose ons vredesknoppie ʼn gemaklike plek om ons te ontstel en te ontwrig. Ons  lê wakker en verwens elke uur omdat die donker nie die wyk wil neem nie. Ons worstel in die vroeë oggendure maar kom nie tot rus nie.

God gee vrede deur die Heilige Gees. Vrede met Hom omdat Jesus ons sonde weggewas het en Hy altyd in genade met ons handel.

Vrede met onsself omdat ons somtyds so sensitief is vir ander se opmerkings en optrede. Vrede met onderskeiding om agter te kom wanneer dit van die Gees is en wanneer dit by wyse van spreke uit die vlees is.

Mag die Here jou vrede gee, al is dinge onseker, donker en ontstellend rondom jou.

Wees gereed om as vredesgesant op te tree, mense bymekaar te bring en te hou, as bemiddelaar op te tree en skeidsmure te help afbreek.

Vrede vir jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.