ToekomsVenster: Pinkster-wonder

(Foto: Federico Bottos/Unsplash.)

God werk vanuit en in ʼn ander dimensie. Hy is nie aan die magte en kragte en wetmatighede van ons fisiese wêreld onderworpe nie. Hy staan bo dit alles alhoewel Hy nie verwyder van alles is nie. Immanuel beteken dat God hier is, by en met ons. Immanuel beteken ook dat God met ons is, die Almagtige, ewige, getroue, barmhartige en onvergelykbare.

As die  term onvergelykbaar gebruik kom die teks in Jesaja dadelik by my op.

Jes. 40:18-22 – Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel? Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie ‘n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos ‘n tentdoek, oop soos ‘n tent vir die mense om onder te woon.

Wat op die dag van Pinkster gebeur het was niks minder as ʼn merkwaardige wonder nie. Mense van oor die destyds bekende wêreld het soos gebruiklik na Jerusalem gekom om deel te hê aan die Pinksterfeesvieringe. Strategies kom die Heilige Gees juis in daardie tyd, op die vyftigste dag. Die vergaderde mense word bewus van die buitegewone dinge wat plaasvind. Die Bybel se nie eksplisiet nie maar dalk het hulle die tonge van vuur gesien, waarskynlik die geweldige rukwind gehoor.

Dan word die Evangelie van God se roemryke dade in en deur sy Seun in hul eie dialek verkondig. ʼn Veelheid van tale word gepraat deur mense wat dit nie voorheen geken het nie.

Sou dit ʼn hoor of spreekwonder wees is nie duidelik nie maar dit is die impak wat met die gebeure gepaard gaan wat die verbeelding aangryp. Luister na die mense se getuienis as hulle sê:

Hand. 2: 6-8 – Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie.7  Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?

Dan hou die wonders nie op nie.

Hand. 5:15 – Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val.

Ons leef in ʼn wetenskaplike eeu. Die mediese wetenskap met name verrig “wondere”. God is tog die bron van alle kennis. Ook in hierdie dae met Covid-19 wag almal met gespanne afwagting dat ʼn kuur vir die pandemie gekry word. Daarvoor moet ons inderdaad bid.

En tog, die God van wonders, die God van Pinkster, van genesing, bevryding en verlossing is gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde.

Leef ons nog met die verwagting dat God wonders doen en kan doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.