ToekomsVenster: Sê ja, leef ja

(Foto: Jordan Wozniak/Unsplash.)

Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. – Deuteronomium 30:19

Richard Rohr, skrywer en teoloog, praat van ons ingesteldheid as mense. Hy verwys na ons gedagtes en denke wat voortdurend sif, verdeel, analiseer in wat aanvaarbaar is en wat nie.

Dit is mos so dat wanneer ons met mense ontmoet ons outomaties begin met ʼn soort analise: Waar is ons dieselfde en waar verskil ons? Kan ons ʼn pad saam met mekaar loop of moet ek liewer wegbly? Hierdie mense is ons mense of duidelik nie van ons mense nie?

Ons mag selfs besluit dat die Here van hierdie mense hou of nie, dat hierdie mense hemel toe gaan of nie, dat my kinders met hierdie mense mag sosialiseer, of nie.

Dit beteken uiteraard nie dat ons nie ʼn verantwoordelikheid het, of dat mense ʼn natuurlike aanvoeling het vir sommige bo ander nie. Ons verskil in ons voor- en afkeure en dit is nie noodwendig verkeerd nie. Onderliggend egter aan ons hantering van mekaar is ʼn “nee” benadering.

Ons doen ons dag op dieselfde manier. “Ek sien nie kans nie, ek wil nie gaan nie, ek is nie lus nie, en wens dit was anders” en so kan ʼn mens aangaan.

Richard stel voor dat ons die lewe op ʼn ander manier benader, nl. met ʼn “ja” benadering, ʼn waarderende, positiewe, ontvanglike en oop ingesteldheid.

Dit is so dat die lewe ons sinies gemaak het. Ons is deur mense van wie ons dit nie verwag het nie, teleurgesteld. Hulle het hulle voorgedoen vir iets wat hulle nie is nie. Ongelukkig is dit dikwels waar van Christene, soveel so dat besigheidsmense versigtig is wanneer iemand homself as ʼn Christen voorstel. Eintlik is dit ʼn vorm van manipulering. Ons gedrag behoort genoeg getuienis te lewer van wie ons inherent is.

Ons kan kies om met hierdie “wees versigtig”  gesindsheid te lewe wat ons verhinder om deur die mooi verras te word.  Ons kan opnuut kies om die lewe, geleenthede, mense en ook God met verwagting tegemoet te loop, ons hande uitgesteek na mekaar en ʼn gewilligheid om mekaar in te nooi in stede van die deur na ons harte toe te maak.

Dink bietjie na oor jou ingesteldheid en of dit dalk moet verander.

Vra die Here vir die genade om weer onvoorwaardelik, selfs kinderlik te vertrou en lief te hê.

Begin jou dag deur vir die Here “ja” te sê en te verwelkom wat op jou pad kom.

Sien hoe die glimlag weer om jou mondhoeke begin speel.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.