ToekomsVenster: Skep moed

(Foto: Vladimir Fedotov/Unsplash.)

2 Pet. 1:16-19 – Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.

Die wêreld het ʼn donker plek geword. Dit is nie net Covid-19 wat ons ontstel nie, maar ook die arrogante vlakke van korrupsie, geweld , plaasmoorde, armoede, honger, werkloosheid, droogte op sekere plekke en so kan ʼn mens aangaan. Die wêreld het ʼn onseker en ʼn onvriendelike plek geword. Mens voel maklik ontwrig en onseker in so ʼn wêreld.

Baie van ons dra donker brille, nie letterlik bedoel nie maar spreekwoordelik. Die media help ook nie om ons gemoedstemming te lig nie. Die een berig is meer ontstellend as die volgende.

Die vraag dring hom aan ons op: Waarom moet ʼn mens nog stry? Moet ʼn mens nie maar net handdoek ingooi nie? Wat help dit tog?

Om teen die stroom in te swem is vermoeiend en bring oënskynlik niks nie. Dit voel of die Here ons gelos het. Ons is op ons eie en hoe gouer ons leer om self klaar te kom hoe beter.

Natuurlik is dit nie waar nie – duisend keer nee. Jesus is deur die Vader as sy geliefde Seun, Verlosser en Hoop van die aarde aangewys.

Die boodskap aangaande Jesus is soos ʼn lamp wat in die donker skyn. Wie op Hom vertrou sal nie teleurgestel word nie, sê die Woord.

Die dag sal aanbreek en die môrester sal opkom in ons harte. Die nuwe dag wink reeds. Dit sal nie altyd so gaan nie. Skep moed. Die nuwe dag kom spoedig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U wat my ken weet hoe die stukkende wereld my raak….Here open asb ons oe en ore van geloof

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.