ToekomsVenster: Staan op uit jou negatiwiteit

(Foto: Japheth Mast/Unsplash.)

Net nou die dag het ons die opstanding van Jesus uit die dood gevier. Onthou alles wat God in Christus gedoen het, is ter wille van sy mense.

Hy kom ter wille van ons, leef, doen en getuig ter wille van ons, ly ter wille van ons, word versoek ter wille van ons, word gekruisig en begrawe ter wille van ons, staan op ter wille van ons, gee opdragte gedurende die 40 dae voor sy hemelvaart, alles ter wille van ons, sit een aan die regterhand van die Vader en tree in ter wille van ons, uiteindelik kom Hy weer, ook ter wille van ons.

Die Koninkryk is God se alternatief ter wille van ons. Dit sou ʼn goeie oefening wees om deur die lysie te werk en jouself af te vra presies hoe daardie aspekte van Jesus se lewe, sterwe, opstanding, hemelvaart en verwagte wederkoms in jou lewe resoneer. Watter verskil maak dit aan jou lewe, optrede, ingesteldheid, verwagting en beplanning?

Terug na ons aanvanklike gedagte. Die opstanding ter wille van ons.

Jesus is deur die heerlike magsdaad van die Vader deur die krag van die Heilige Gees uit die dood opgewek. Die dood kon Hom nie hou nie.

Wat agterbly is die doeke.

JOHANNES 20:6-7: Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol.

Die doeke aan sy lyf getuig van sy dood, desperaatheid en die oënskynlike einde. Die doeke word egter netjies opgerol agtergelaat om nie ʼn haastige en desperate loswikkel van die dood se ongenaakbare kloue as getuienis agter te los nie. Nee, netjies, beplan en doelgerig heers Vader, Seun en Heilige Gees oor die dood.

Dit is asof die netjies opgevoude doeke getuig van die orde wat God bring in die chaos van menslike bestaan.

Waaruit moet jy vandag opstaan? Neem tyd en doen dit beredeneerd, ordelik en beslis. Terwyl jy die doeke van jou doodsbestaan oprol, spreek jy die woorde uit: “Ook hiervoor het Jesus betaal. Ook hieroor het Hy die oorwinning behaal. Ook hierin is ek nou meer as ʼn oorwinnaar deur Hom wat vir my die krag gee. Alle eer aan Hom, die Koning van die Konings.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Dankie Ds Pelser vir hierdie mooi boodskap dit inspireer my om my negatiewe gedagtes te oorwin met die hulp van Onse Vader,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.