ToekomsVenster: Visioene of gesigte in handelinge


Leierskap-bemagtig

Argieffoto.

Julle jongmense sal gesigte sien. – Handelinge 2:17

Nog ’n manier waarop God deur sy Gees in en deur mense praat, is deur visioene of gesigte. In die lig van Handelinge 2:17 moet ons onsself afvra wat so ’n gesig behels. ’n Gesig kan beskryf word as ’n beeld of prentjie wat in jou geestesoog afspeel. Dink maar aan Petrus in Handelinge 10 wat na Kornelius se huis ontbied is. Kornelius het in ’n gesig ’n engel van God gesien en gehoor hoe hy hom op sy naam roep. Die engel het hom daarvan verseker dat God sy gebede gehoor en sy liefdesdade aan die armes raakgesien het. In die gesig het die engel vir Kornelius opdrag gegee om vir Simon Petrus te laat haal.

Terwyl twee bediendes en ’n soldaat in opdrag van Kornelius op pad was Joppe toe om Petrus te gaan soek, het Petrus rasend honger op die dak van die huis gesit waar hy vertoef het. Sy gasvrou het nog nie die kos klaar gehad nie en terwyl hy sit en bid het, het hy óók ’n gesig gesien: ’n doek het uit die hemel neergedaal. In die doek het hy allerhande diere, reptiele en voëls gesien. ’n Stem het Petrus beveel om van hierdie diere te slag en te eet. Petrus het egter geweier omdat hy as wetsgehoorsame Jood nie enige onrein dier wou eet nie. Die gesig het ’n boodskap bevat dat Petrus nie dít wat God rein verklaar het as onrein mag afskryf nie. Toe Kornelius se geselskap opdaag, het die Heilige Gees Petrus reeds voorberei om God se wil te kon onderskei.

God kan jou prentjies laat sien, wat nie vir die fisiese oog sigbaar is nie om jou in staat te stel om te kan interpreteer waarmee Hy op daardie stadium besig is. Daar is geen beperking op God se vermoë om met ons te praat nie. Ons moet versigtig wees om nie menslike beperkings te plaas op die maniere waarop ons glo God met ons kan praat, al dan nie.

Gesigte of visioene kan vergelyk word met ’n rolprent wat in die geestesdimensie afspeel. Soos ’n fliek in die fisiese werklikheid bepaalde gebeure uitbeeld, stel ’n visioen mens in staat om gebeure in die geestelike dimensie waar te neem. Openbaring neem sy lesers op ’n toer deur die hemel by wyse van die gesigte of visioene wat Johannes gesien het. Soos met enige van die kommunikasiemetodes van die Heilige Gees, sal gesigte / visioene ook nooit ’n boodskap bring wat in stryd met die Woord is nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.