ToekomsVenster: Vredevors

Foto:
Matthias Oberholzer/Unsplash

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors – Jesaja 9:5

Die Engelse eweknie vir Vredevors is net so mooi: prince of peace.

Ons leef in ʼn wêreld waarin daar soveel geweld, onmin, hartseer en trauma is. Dit is gewoonlik die onskuldiges wat in die geweervuur vasgevang word. Strydende groepe ontsien die lewensverlies en ontwrigting wat hul dade teweeg bring nie. Die duisende vlugtelinge wat huis en haard agterlaat opsoek na vrede en stabiliteit vir hul gesinne is bekend. Soveel kom nooit by die bestemming uit nie.

Die tragiese dood van vlugtelinge op see en land skree ten hemel. Dit breek ʼn mens se hart om ouers met klein kindertjies aan die hand voortvlugtig te sien. Dit is inderdaad soveel anders wat God dit bedoel het.

Die vrede van God, die sg. shalom Jahwe, het met die kruisdood en opstanding van Jesus ʼn praktiese moontlikheid geword. Tog skree die ervaring van miljoene mense daarteen. Waarom is daar soveel onvrede?

Daar kan ʼn verskeidenheid van redes aangevoer word. Hebsug en eiebelang. Jaloesie en afguns. Hoogmoed en eiegeregtigheid. Invloed en magsbeheptheid. Onvergewensgesindheid en haat. Onverdraagsaamheid en meerderwaardigheid. Ongehoorsaamheid en opstand.

Ten spyte van Jesus se volmaakte offer aan die kruis bly vrede ons ontwyk. Dit sal uiteraard met die wederkoms van Christus in volheid deurbreek. Ons word egter geroep om tekens op te rig van daardie komende werklikheid en moet ons soos vrede ambassadeurs gedra. Die kerk van Jesus het ʼn voor die hand liggende taak om homself vir vrede te beywer. Ons mag nie bydra tot die lyding van ons medemens nie.

Mag die Here aan jou vrede gee.

En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. – Kol. 3:15

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.