ToekomsVenster: Waar jou hart is sal jou skat ook wees

geld-kis-skatkis

Foto: Alexas_Fotos/Pexels.com

Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. – Matteus 6:21

Hierdie vers het my diep laat nadink en nog nie gelos nie. Dit kom in Matteus 6 voor en vorm deel van die bekende bergrede van Jesus. Hy is aan die woord en elke sin stem tot nadenke.

Die gedeelte gaan oor skatte bymekaar maak. Twee plekke word met mekaar vergelyk. Die hemel en die aarde. Lg. is onderworpe aan verganklikheid. Die woorde wat gebruik word is mot en roes en diewe. In die hemel egter is daar nie mot, roes en diewe nie. Eersgenoemde behoort tot die huidige onvolmaakte en deur die sonde geaffekteerde werklikheid. Ons is nog nie in die hemel nie, dit is gewis. In die hemel egter is daar geen teken van verganklikheid nie. Die hemel is nie net ʼn toekomstige werklikheid nie maar reeds aanwesig waar Koninkrykswerk gedoen word. Weliswaar voorlopig maar niks minder hemel nie.

Skatte is kosbare goed. Jy wil teen wil en dank beskerm en bewaar. Skatte neem van jou hart besit. Jy dink aan jou skat, beplan daar rondom en beskou dit as jou sekuriteit. Vir sommige is hul skat ook hul identiteit. Dit is wie hulle is, besittings, posisie, populariteit, ens. Jou hart is inderdaad waar jou skat is.

Indien ʼn mens se skat op aarde is, is jou hart op aarde. Dit beteken dat jou hart die effek van mot en roes en diefstal kan beleef. Jy mag dit oorleef maar skade ly. Dit maak van jou ʼn negatiewe, onvervulde, kort termyn en visielose mens. Indien egter jou skat in die hemel is kan mot, roes en diewe jou nie skade berokken nie. Jou hart is op die regte plek.

Die hemel is waar God is. In ʼn sin is God die hemel en is die hemel God. God vul daardie ruimte so volledig dat daar nie afstand of spasie oor is nie.

Kortom is iemand wie se fokus die aarde is se skat plaaslik en verganklik. Dit sal en kan die toets van die tyd, ook die vuur toets van Korintiërs nie oorleef nie. As jou skat in die hemel is, is jou fokus reg. Dit beteken dat God jou skat is. Jou hart behoort aan Hom. Dit is ook waar dit moet wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.