ToekomsVenster: Waar maak jy die verskil?

(Argieffoto)

Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. – Psalms 18:30

Die onlangse matriekuitslae laat ʼn mens met waardering vir die mooi prestasie wat matrikulante gelewer het en dit te midde van uiters uitdagende omstandighede. Covid-19 het op alle sektore in die samelewing ʼn invloed gehad, niks minder in die onderwys nie.

Skole moes innoverend dink en optree ten einde leerders by te staan. Interessante nuwe moontlikhede het so op die tafel gekom waarvan die sosiale media ʼn belangrike skakel was. Vir baie kinders kon hul doodgewoon voortgaan met tuisonderrig en steeds uitstyg.

Dit beteken egter nie dat leerders, ouers en onderwysers groot opofferinge moes doen ten einde ons matrikulante met ʼn glimlag op die dag wat die uitslae gepubliseer is, te laat nie.

Daar is egter suksesverhale wat ʼn mens sprakeloos laat. Die spreekwoord, “waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg” is baie waar.

Bybels sou dit vertaal met “niemand wat op die Here vertrou word teleurgestel nie” (Ps. 34)

So luister ek na die getuienis van ʼn skoolhoof in Limpopo.

Dit is algemeen bekend dat daar skole in Limpopo is waar geen leerder matriek kon slaag nie. Daar kan seker baie redes wees vir dié toedrag van sake maar dan weer laat ʼn suksesverhaal soos die van Livhalani Sinyosi, van die Dzata Secondary School in die Vhembe Wes-distrik, wenner van die 2020 African Union Continental Teacher Prize ʼn mens met hoop vir die toekoms.

Die skool beskik oor geen biblioteek, laboratorium of tegnologiese ondersteuning nie. Desondanks slaag, as ek reg onthou, al 163 leerders matriek, spog met tientalle onderskeidings en net drie moet aanvullende eksamens skryf.

Die skoolhoof en haar man, ʼn pastoor, is uitverkoop aan die gemeenskap en kinders. Haar skool huisves vir jare reeds meer as 2 000 kinders en hulle gaan in segmente skool toe omdat die geriewe nie toereikend is nie.

Jaarliks word kinders weggewys omdat die skool reeds uit sy nate bars.

Wanneer die skoolhoof vertel van die slim planne wat hulle beraam het om leerders te midde van Covid-19 te ondersteun, staan jy sprakeloos.

Ouers het ander se kinders by hulle in die huis geneem, groepies van vyf leerders, waarvan een akademies sterk is. Daardie leerling het dan die taak gehad om die ander leerders onder sy of haar sorg te neem en te ondersteun.

Kinders met gedrag- en ander probleme word nie sondermeer af geskryf of verwyder nie maar opgevolg, wat iewers moet daar ʼn verklaring en oplossing vir dié probleem wees.

So word vertel dat ʼn leerder altyd laat is totdat die skoolhoof verneem dat die ouma eers haar medisyne moet ontvang voordat die tog skool toe aangepak kan word.

Die energie en entoesiasme van die skoolhoof is aansteeklik. Toegegee, ons het verskillende gawes en God roep ons vir verskillende dinge.

Is dit nie so dat ons dikwels wegkruip agter omstandighede wat ons onvermoë om te presteer wil verduidelik nie? Ons verskonings word geredelik aanvaar omdat almal bewus is van die negatiewe konteks waarbinne jou werk gedoen moet word.

“Ek het nie” en “ek kan nie” is bekende frases. Dié gelowige skoolhoof ken egter die betekenis en bemagtiging van verse soos:

  • 2 Samuel 22:30 – Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.
  • Habakuk 3:19 – Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel.

Dit laat ʼn mens dink: waar en hoe is ek en jy ontplooi?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.