Gedagte vir die dag: Twee paaie, twee bestemmings

(Foto: Jametlene Reskp/Unsplash.)

Hy is soos ’n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd. Sy blare verwelk nie; in alles wat hy doen, is hy voorspoedig. (Psalm 1:3)

Psalm 1 is opgebou rondom die gedagte dat daar twee maniere is om te leef, wat uitloop op twee baie verskillende bestemmings. As ons die verkeerde raad volg, sal ons met die verkeerde mense meng en uiteindelik deel van die verkeerde groep wees. Die “sondaars” wat hier beskryf word, is mense wat kies om voortdurend te doen wat sleg is, wat hulle nie steur aan God se gebooie nie en wat spot met alles wat heilig is. Hulle lag vir God se dinge en is ongehoorsaam aan die Here vir vermaak. Om hierdie mense te volg lei tot vernietiging.

In teenstelling hiermee sal dié wat vreugde vind in die gebooie van die Here en sy voorskrifte dag en nag oordink (Ps. 1:2) ’n lewe vol seën geniet. Om jou in God se Woord te verbly beteken jy geniet dit om dit te lees, daaroor na te dink en dit uit te leef. Dit is ’n vaste manier van leef wat op God ingestel is. Onthou God se raad aan Josua: “Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees” (Jos. 1:8). Hoe ons die Bybel behandel, is ook hoe ons Jesus Christus behandel, want die Bybel is sy Woord aan ons.

God seën ons sodat ons weer ’n seën vir ander kan wees. Ons behoort dan te wees soos bome wat langs riviere geplant is – lewend, vrugbaar, pragtig en standvastig, met ’n onsigbare wortelstelsel wat noodsaaklike voedingstowwe uit God se Woord opneem. As ons só leef, sal ons vrug dra terwyl God se liefde in ons en deur ons vloei.

Die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. – Galasiërs 5:22-23

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.