Gedagte vir die dag: Verstomming en vermorsing

baba_hand_pappa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 82

“Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind … die hulpelose en die behoeftige …” (Psalm 82:3).

Dit is weer een van daardie Bybelgedeeltes waarby skeptici hul oë rol en siniese mense giggel en gelowiges met ’n mond vol tande staan. Dit begin só: “In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens, staan God op …” (v. 1).

Wat kan ons, moderne kerkmense wat op ons beste ook maar erg sukkel met ons geloof, hierop sê? Die ou verweer van ’n ander tyd en ’n ander wêreldbeeld en ’n ander opvatting oor “hemel”? Seker, ja.

Maar hoekom sal ons dit wil doen? Wie het ons aangestel om hierdie psalmdigter en sy tyd se apologete te wees? Ons sal veel beter vaar as ons bloot luister na wat in daardie “hemelse vergadering” gesê is en dit ter harte neem. Ons is immers mense wat erns met die Bybel se boodskap maak, welwetend dat daar ’n enorme tyd- en kultuurgaping tussen ons en die eerste hoorders bestaan.

Nou: Wat hoor ons? Die reguit woorde van die God bo alle gode: Sorg vir die sorgbehoewendes! Kyk na die kleintjies! Sien tog om na die swakkes!

Kan dit duideliker? Kan ons dit misverstaan? Of is ons só besig om te verdedig en te verduidelik dat ons nie die skare behoeftiges raaksien nie? So hard aan ’t worstel met ons gedurige geloofstwyfel dat ons nie die energie het om goed te doen nie?

Hou tog op om jou aan Psalm 82 se vreemdheid te verstom. Jy mors die Here-van-die-swakkes-en-sukkelaars se tyd. Sê maar as Hy Hom tot iemand anders moet wend. Iemand wat Hom sal hoor, én sy kinders se noodroepe.

Here, ek praat deesdae so graag oor my gebrekkige kennis dat ek dié dinge miskyk wat glashelder. Maak my slimmer as dit, asseblief !

Bron:
Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.